So lyk die Nuwe Suid-Afrika

Die gebeure sedert verlede week in Lichtenburg en Coligny is seker die beste aanduiding van hoe die “nuwe Suid-Afrika” lyk – ‘n plek waar hordes hulle erger gedra as die tot nog toe bekende barbare.

Wat het arme kuikens gedoen dat hulle op die pad uitgegooi word om moedswillig doodgery te word? Wat het die res van die kuikens gedoen om lewend in ‘n vragmotor verbrand te word?

Wat het die landboumaatskappy te doen met dienslewering dat sy vragmotors uitgebrand moet word?

Wat het die drankwinkel gedoen om leeg geplunder te word, terwyl hy self ook ‘n slagoffer is van die swak dienslewering van die munisipaliteit?

Waar het die joelende barbare verlede jaar Augustus hulle kruisie getrek toe hulle die geleentheid gehad het om ‘n swak presterende stadsraad huis toe te stuur en te vervang met mense wat dit dalk beter sou kon doen?

Waar was die polisie? Wat het van die nuwe minister van polisie se belofte gekom dat vuur met vuur beantwoord gaan word? Daar word toe sowaar ‘n polisie bakkie en ‘n Njala-voertuig onder die polisie aan die brand gesteek, sonder dat hulle iets daaraan doen.

Waar is FW de Klerk nou om te vertel dat sy beloofde teëwigte die inwoners van Coligny en Lichtenburg sal beskerm?

Waar is die lofsangers van die land se Grondwet, om te verklaar dat die Grondwet die inwoners van die land beskerm, en dat hulle vry is?

Die enigste wat vry is, is die barbaarse skare, wat onskuldige diere afmaak, en verkies om eerder die drankwinkel te plunder as die klerewinkel, en wat ‘n dorp in vlamme kan laat opgaan. Daarteenoor is die inwoners van die dorp voëlvry teen hierdie smerige bende, en moet hulle toekyk hoe ‘n lewe in ‘n halfuur verwoes word.

Dit is lofwaardig dat die boeregemeenskap, wat reeds swaar kry met plaasaanvalle, droogtes en slegte pryse, bereid is om hulle plase net so agter te laat om die dorp en sy inwoners te kom beskerm.

Wat egter verontrustend is, terwyl daar andersins ook begrip voor is, is dat mense openlik moedeloos en platgeslaan is. Natuurlik is dit erg as alles waarvoor jare gewerk is, eenvoudig opgaan in vlamme en in as verander. Laat ons hoop dat die mense wel verseker is en ook onlusteversekering het – iets wat elke landsburger vandag nodig het as gevolg van die onvoorspelbare klimaat.

Ons sal egter ons moedeloosheid en verslaentheid agter ons geslote deure moet hou, en na buite ‘n vasberadenheid uitstraal. ‘n Vasberadenheid om vir die lafhartige geweldenaars te sê dat hulle ‘n volgende keer ‘n warm ontvangs sal kry, want ons het ook regte, en deel van daardie regte is om onsself en ons eiendom teen hierdie barbarisme te beskerm.  Hulle kan nie ons moraal ook nog van ons wegneem nie. Indien nodig, moet ons maar die vuur met vuur beantwoord, want die polisie kan ooglopend nie.

Verder moet gemeenskappe elke keer as daar aansoek gedoen word vir een of ander optog, hewig daarteen beswaar aanteken, in die lig van die gebeure in hierdie dorpe, maar ook wat gebeur by universiteite, in Vuwani, Warmbad en talle ander plekke. Geen van hierdie optogte bly vreedsaam nie. As hulle dan graag wil brand, laat hulle in hulle eie gebiede bly en hulle burgemeesters en raadslede se goed gaan verniel – nie ons eiendom nie.

En verder moet ons gemeenskappe sorg dat hulle goed georganiseer is in beskermingseenhede. Ons het nog die kundigheid van oud polisie en weermagmense wat weet hoe om oproerige skares te hanteer met minimum geweld, maar met beslistheid.

Ons moet toon dat ons nie gaan lê nie, want dan kry hulle net nog meer lekker. Situasies soos hierdie kan ook gebruik word om onsself te versterk!