Sjina en VSA soek oplossing vir N-Korea krisis

Sjinese leiers werk saam met die Verenigde State van Amerika om ’n werkbare en affektiewe oplossing te vind vir die Noord-Koreaanse kernwapen krisis.

Inligting oor die samewerking is verstrek in ’n onderhoud met die ABC sender deur generaal HR McMaster, ’n amptelike raadgewer van president Donald Trump.

Generaal McMaster sê daar is internasionale konsensus dat die toestand in Noord-Korea nie blywend kan voortduur nie, en wys daarop dat Peking ewe bekommerd is oor die toestand.

Die twee lande probeer om ook saam met ander bondgenote ’n plan uit te werk met verskillende opsies wat die Noord-Koreane sal laat afsien van hul kernwapen program.

Alle moontlike opsies moet oorweeg word alvorens daar gekyk kan word na ’n militêre oplossing, het hy gesê.

Generaal McMaster het die hoop uitgespreek dat Sjina ’n stewige plan op die tafel kan sit wat die Noord-Koreaanse regering sal laat afsien van hulle plan, aangesien die land uiters gevoelig is vir die Sjinese se druk.

Sjina is die enigste werklike vennoot van Noord-Korea, en sterk optrede uit Sjina kan lei tot ’n finale oplossing.

Die afgelope naweek het Noord-Korea weer gepoog om ’n missiel te lanseer, maar die vuurpyl het sekondes nadat dit die grond verlaat het, ontplof en neergestort.

Foto – Generaal HR McMaster