Perspektief op volhoubare ekonomiese groei

In die voorafgaande rubriek het ons die belangrikheid van onderwys en opvoeding kortliks toegelig, deur onder andere te verwys na die ekonomiese- en nywerheidsprestasies van ons volk wat op deeglike onderwys gebou was.

Die ekonomiese groei onder eie regerings is welbekend: in die era 1955-1966 het SA groot hoogtes bereik, selfs teen wêreldwye ekonomiese stagnasie.  Dit het gesteun op nywerhede gebou oor enkele dekades met volkskapitaal en volksarbeid.  Dit was ten eerste gebou op deeglike opleiding, óók opvoeding wat die belangrikheid van vlyt in onder kinders en jongmense gekweek het.

In twee geslagte sedert 1902 het harde, eerlike werk en produktiwiteit ons land omvorm van landbou-ekonomie, tot ´n selfstandige nywerheidsland met ´n gediversifiseerde ekonomie, wat byna drie dekades se haat-sanksies deur die 60’s, 70’s en 80’s kon deurstaan.  So sterk was die volkseenheid en ekonomie dat ons opponente deur partypolitiek en naakte omkopery van (mis)leiers hul “oorwinning” moes koop!

Deur daardie era het die deursnit Afrikaner egter één kernfout begaan:  ons het die Brits-ontwikkelde trekarbeid stelsel nie na behore bestuur nie.

Inderdaad was daar sterk gesteun op swart arbeid.  Ten spyte van ´n weldeurdagte bedeling van de facto ‘volkstate’, geskoei op die tradisionele verblyfpatrone van die land, het swart arbeiders verkies om na blanke SA te kom vir werk en welvaart. (Onafhanklike ontleding staaf die vooruitgang in SA teenoor Afrika in die era voor 1994.)

Terwyl hierdie stelsel ekonomies sin gemaak het, het daarmee saam ´n arbeid snobisme onder ons mense posgevat!  Daardie fout is tot tragiese hoogtes gevoer toe ons hierdie volksvreemde arbeid ook in ons huise ingedra het.

Dit is hoogtyd om ons kinders te leer dat arbeid adel.  Natuurlik is daar take wat minder aangenaam is, maar een van die belangrikste elemente van onder andere diensplig was dat jongmanne geleer is om vir hulleself dinge te doen!  Benewens die opvoedingswaarde, is tuinwerk gesond en leer huiswerk ons en ons kinders selfdissipline!

Deur hernieude vlyt, gekoppel aan redelike vergoedingsverwagtinge en afwesigheid van gierigheid, kan ons weer ons volksekonomie laat herleef, as enjin na volksvryheid!

Hoe is dit gesteld in die “nuwe” SA?

Danksy die vakbondwese is daar weinig goed te sê oor swak produktiwiteitsvlakke.  Dit het SA se nywerheidsvermoë stelselmatig afgetakel.

Die ekonomie word kunsmatig gestimuleer met oor-indiensneming in die staatsdiens en openbare sektore.  En danksy die rasgedrewe indiensnemingsbeleid, wat velkleur bó vaardigheid stel, verval die openbare dienssektor met rasse skrede.  Voeg hierby onrealisties hoë en onvolhoubare vergoeding aan ´n onbevoegde en onproduktiewe staatsdiens, en “onvolhoubaar” skreeu tot enige wat wil luister.

Staat- en semi-staatsmaatskappye is feitelik bankrot – slegs staatswaarborge bied ´n sweem van tegniese solvensie.

Die uitrol van rassediskriminasie is besig om ook die privaatsektor aan bande te lê.  Tragies dat vele wat met vals lippe en gesplete tong hul eie “volkskap” besing, nie sal huiwer om rasdiskriminerende praktyke te steun ter wille van persoonlike rykdom nie!

Hier moet ons ons kritici antwoord: in die era 1948-89 was daar inderdaad verskeie maatreëls, waaronder ´n volkseie fokus met staatsdiens indiensneming.  Maar dit was enersyds ´n progressiewe en grootliks produktiewe staatsdiens!  Dit was ´n staatsdiens wat ekonomiese heenkome gebied het, nie ´n soustrein leefstyl nie.

Maar belangriker: volkseie belastinggeld het ´n volkseie staatsdiens betaal!

Vandag word oorwegend blanke belastinggeld wanbestee aan ´n verafrikaniseerde staatsdiens waar ANC-verbintenisse swaarder weeg as diens aan die publiek.

En les bes:  In stede van te werk, wil die oorwegend swart massas betoog teen werkloosheid, teen swak dienslewering en teen wanbesteding.  Maar hulle wil betoog sonder om te wil betaal!

Dit is die vrug van vyf en twintig jaar se sentrale beplanning volgens die Stalinistiese model, onderskraag deur gekonsentreerde (en onderdrukkende) staatsmag en militant-kommunistiese vakbondwese.  Dit is ook die vrug van die ANC-strategie om SA onregeerbaar te maak in hul magstryd.

Hierdie is kankers wat enige ekonomiese groei onmoontlik maak, maar erger – dit verteer sowel die fisiese infrastruktuur as die dinamiese lewenskrag van menslike kapitaal wat volhoubare ekonomiese groei moontlik kan maak.