OB moet Molefe handdruk ondersoek

Die stof het nog nie gaan lê om die R30 miljoen goue handdruk van die voormalige hoof van Eskom, Brian Molefe nie, en die Openbare Beskermer se hulp is nou ingeroep in die saak.

Adv. Anton Alberts het die aangeleentheid namens VF+ na die OB verwys met die spesiale versoek dat die betrokkenes persoonlik aanspreeklik gehou word indien die betaling onregmatig was.

Adv. Alberts sê daar moet ook duidelikheid gegee word of die geld ʼn pensioen-uitbetaling was en of dit ʼn goue handdruk was, aangesien Molefe self as hoofuitvoerende beampte by Eskom bedank het.

Hy sê wat die geval ook al is, is dit duidelik onregmatig aangesien Molefe sowat R243 miljoen per jaar by Eskom sou moes verdien om vir ʼn pensioen-uitbetaling van R30 miljoen in aanmerking te kom. Sy salaris was egter “slegs” R8 miljoen en hy was skaars anderhalf jaar in Eskom se diens.

“Dit is duidelik daar is groot ongerymdhede rondom dié uitbetaling en die OB moet politieke betrokkenheid tot op die hoogste vlak ondersoek,” sê adv. Alberts.

“Die OB word gevra om in haar bevinding oorweging te skenk aan die moontlikheid dat betrokkenes, wat politici en amptenare insluit, persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die betaling,” sê adv. Alberts.

Foto: adv. Anton Alberts