Hongarye skrik nie vir EU dreigemente

Die Europese Kommissie het Hongarye gedreig om af te sien van sy beplande maatreëls “wat nie strook met die EU se demokratiese wette en waardes nie”.

Frans Timmermans, die visevoorsitter van die Kommissie het glo ook sy kommer uitgespreek oor Hongarye wat so swaar gekry het om sy vryheid te herwin, en nou “dit wil verkwansel”.

Die konserwatiewe nasionalistiese regering van Hongarye is egter vir etlike jare in ernstige meningsverskille met Brussel gewikkel, en het tot hede in belang van die bevolking van die land probeer regeer, sonder om veel waarde te heg aan die EU se standpunte.

Premier Viktor Orbán het tot hede nie veel ag geslaan op die EU se besware oor hoe Hongarye regeer word nie, en Timmermans se waarskuwing dat die EU sal optree teen die land, omdat “hulle geduld op raak” maak klaarblyklik geen indruk op die Hongaarse premier nie.

Een van die EU se grootste besware teen premier Orban gaan oor die “Central European University” wat deur die premier se aartsvyand, die miljardêr George Soros opgerig is.

Premier Orban meen die Engelstalige inrigting uit die VSA maak inbreuk op die konserwatisme van die Hongaarse bevolking.

Die nasionalistiese regering gaan nou ’n nuwe onderwyswet inbring dat anderstalige universiteite slegs toegelaat word as hulle aanvanklik in ’n ander land tot stand gekom het.

Die wet sal meebring dat die universiteit nie kwalifiseer om in Hongarye ’n kampus te bedryf nie, en daaroor is Timmermans erg ontstel.

Foto – Premier Viktor Orban