Apple wil ook selfbestuur motors bou

Die tegnologiese reus Apple gaan blykbaar ook begin met die ontwerp en bou van ’n selfbestuur motorvoertuig nadat vergunning aan die maatskappy gegee is deur die Departement van Motorvoertuie in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië.

Gerugte dat die maatskappy beplan om die gevorderde tegnologie aan te wend en ’n voertuig te bou, het reeds maande gelede in die Amerikaanse media verskyn.

Apple het klaarblyklik reeds ’n deel beplanning gedoen onder die kodenaam “Projek Titan”, maar die maatskappy se amptelike woordvoerder en uitvoerende hoof, Tim Cook, swyg en lewer geen kommentaar oor die onderwerp nie.

Verskeie motorvervaardigers is reeds besig met toetse en vervaardiging van selfbestuur motors, waarvan die bekendste Tesla, Uber, Volkswagen, Mercedes Benz, BMW, Honda en Nissan is.

Die Internet maatskappy Google is glo ook besig met hulle projek om so ’n voertuig te vervaardig.

Foto – Tim Cook