Witkatjiepiering / Gardenis thunbergia Lf.

 

Witkatjiepiering is in die Rubiaceae (Gardenia) familie. Dit  word ook die wilde gardenia genoem. Hierdie plant word oral in Suid Afrika aangetref, maar is nogal skaars in die Kaapse omgewing. Dit groei baie goed in Natal.

Hierdie is n pragtige immergroen struik of boompie wat sowat 2 tot 5 meter hoog groei. Die stam van hierdie struik is taamlik lig en dit groei mooi regop. Die stam word tussen 250 mm tot 300 mm in diameter en het kort reguit kleiner takke. Die plant het blink donkergroen blare met ‘n sterk aar en is spiesvormig. Blare is ovaalvormig en leeragtig en groei baie dig aan die takke.

Witkatjiepiering dra ook dieselfde sterk geurige blomme nes ons gewone katjiepiering. Die blommetjies vertoon glad nie soos ons gewone gardenia blomme nie, hoewel hulle groot is met 8 tot 9 kroonblare wat langwerpig is.  Blomme is spierwit en ruik veral heerlik sodra die son begin sak. Witkatjiepiering blomme verskyn in die middel- tot laatsomer. Blommetjies word ook nie bruin wanneer hulle oud word nie. Hulle groei vanuit ‘n silinderagtige stammetjie aan die takke van die struik.

Daar verskyn harde vrugte (saadlobbe) na die blomtydperk. Hierdie saad kan vir jare aan die boom bly hang indien dit nie versteur word nie. In die natuur sal olifante en groot boksoorte die vrugte eet.

Witkatjiepiering kan met saad voortgeplant word. Steggies kan ook gemaak word. Saai die saad vroeg in die lente. Indien u ‘n plant by die kwekery koop, plant dit in die son of halfskadu in goed dreinerende grond. Dit kan ook in potte geplant word. Die struik is egter ‘n stadige groeier maar is taamlik droogtebestand, maar as dit te droog word kan dit die blomknoppe afgooi voordat hulle oopmaak. Beskerm egter teen ryp.

Die wortels van hierdie plant word in sommige Afrikastate gebruik om velsiektes te genees. Dit kan ook as purgeermiddel gebruik word. Die hout van hierdie struike kan gebuig word sonder dat dit breek en dit kan gepoleer word en lyk baie mooi. Daar word knope en handvatsels vir messe gemaak van die stamme.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.