Motorrubriek – Opel Mokka X 1.4 T

 

Gedurende November 2016 het die Opel Mokka ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en in die proses is die manier waarop die naam “Mokka” geskryf word verander. Die kleinletters is verander na hoofletters wat nou aandui dat dit ‘n 2017 motor is. Daar is ook ‘n “X” bygebring wat nog ‘n verdere aanduiding is dat dit opgegradeer is.

Hierdie is ‘n sportnutsvoertuig waarin daar baie plek is vir passasiers, goedere, bagasie, meer as genoeg beenspasie en ook kopspasie. Dieselfde 1400 kub. sentimeter, turboaangejaagde, viersilinder, 16 klep, dubbel oorhoofse nokas, inlyn kragbron word gebruik en volgens die vervaardiger is brandstofverbruik 6,9l/100 km. 103 kW is beskikbaar tussen 4900 en 6000 o.p.m. terwyl wringkrag van 200 Nm tussen 1850 en 4900 o.p.m. beskikbaar is.

Aan die voorkant is nuwe vorm hoofligte aangebring met LED tegnologie as hulpmiddel. Aan die binnekant is daar ook veranderings aangebring by wyse van swart materiaal afwerking, ‘n R4.0 Intellink aanraakskerm, gewysigde instrumentepaneel met lug uitlate wat in ‘n ander formaat gebou is.

Daar is twee modelle beskikbaar naamlik die Cosmo en Enjoy en dit is beskikbaar met ‘n sesspoed handratkas of sesspoed outomatiese ratkas wat die krag oorbrenging doen na die voorwiele. Allooi wielnawe met  215/60 R17 bande sorg dat die voertuig op die pad bly. Die stuurwiel is hoogte verstelbaar met al die nodige beheer skakelaars op die stuurwiel gemonteer. Skyfremme is op al vier wiele gemonteer met ABS, EBD, BAS en ESP remhulp.  Vir verdere gerief is ‘n “spoed gevoelige” kragstuur gepas, kolligte voor en agter, banddruk lesing, elektries beheerde vensters, elektroniese beheerde klimaat verstelling,spoedbeheer, ‘n rekenaarstelsel en ‘n sluitstelsel wat al die deure gelyktydig sluit. Ses lugsakke dien as hulpmiddel om in geval van byvoorbeeld ‘n botsing die insittendes te beskerm teen beserings.

Die Cosmo model maak nou gebruik van 19 duim wiele, bykomende hooflig ondersteuning, ‘n verhitte stuurwiel, leerbedekte sitplekke wat verhit word, hoogte verstelbare sitplekke vir die passasiers, reën aanvoel ruitveërs, ‘n tru-kamera en parkeer waarskuwing sensors.

Op die oop pad en in die verkeer is dit ‘n plesier om te bestuur. Die sig na buite is onbelemmerd en die sitplekke bied goeie steun en die ratkas se oorskakeling vind seepglad plaas terwyl daar meer as genoeg vashegringe is om bagasie en goedere aan vas te maak. Wanneer die linker voet nie werk verrig nie, is daar ‘n gerieflike stut daarvoor gemonteer wat indien nodig, nodige rus kan verskaf.

Op die oomblik word daar nagenoeg 100 per maand verkoop wat ‘n aanduiding is dat hier voertuig besig is om gewild te word. Na verneem word is die Opel Astra gekies as motor van die jaar wat moontlik kan beteken dat Opel se algemene verkope kan styg.