Die kuns om flatervry te mislei

Oor dekades het die media sy aanslag om kykers, lesers en hoorders so subtiel te mislei dat die leuen feitlik die waarheid is, of selfs ’n halwe waarheid is wat met fyn nuanses ingeklee is om mense te laat glo wat die opsteller graag wil laat glo.

Deesdae is “vals nuus” hoog op die sakelys van elke politieke struktuur, en almal probeer daaraan aandag gee om die leuens te identifiseer, terwyl ander dit as die volle waarheid probeer verdedig.

Dit maak die waarheid veel meer ingewikkeld, want swart is nie meer swart nie, en wit is nie meer wit nie, en grys is dalk grys……

Valse berigte, of meer eerlik, leuenagtige berigte val nie uit die lug nie, maar word doelbewus op leser, kyker en hoorder geplant asof dit waarheid is.

Die leuen word egter al meer met verfynde terminologie opgestel, bevat dele waarheid, met slim insetsels wat as “valse inligting” bestempel kan word.

In die hedendaagse wêreld van digitale en Internet skeppings word allerlei bewerings oor sogenaamde verregse aanslae op elke lewensterrein voorgehou as die bedreiging van die demokrasie en wêreldorde.

Om die “inligting” meer geloofwaardig te maak, word vennootskappe gesluit wat min of meer dieselfde invalshoek gebruik om beriggewing in te klee.

Die sosiale netwerke word deur talle misleidende berigte oorspoel, en lesers word met sinsnedes wat dikwels uit verband geruk is, oorlaai om uiteindelik die leuen as ’n waarheid te aanvaar.

Berigte waarin bepaalde instansies kwansuis ondersteun word, is dikwels nodig om simpatie te wek by lesers  – “ons ondersteun natuurbewaring en die polisie” – maar verder in die stukke word die leuen verberg met terminologie wat soms verwarrend kan wees.

Die kuns om flatervrye misleiding aan die “slagoffers” te bring, is so verfyn dat dit al moeiliker word om dit te identifiseer as “valse nuus”.

Deesdae word webtuistes so opgestel dat dit die besonderhede van die besoeker kan opvang sonder dat daar enige aanduiding is, en daardie persoon se besonderhede word elders aangewend om die misleiding verder te voer.

Die geringe verdraaiing van bestaande en erkende feite is so oud soos die mensdom, maar met die hedendaagse tegnologie is selfs ’n bekende foto nie noodwendig meer wat dit werklik moet vertoon nie, want dit kan gemanipuleer word om aan te pas by die stelling wat gemaak word om die leser te mislei.

Die misleiding word soms geïdentifiseer, en daarvoor word ook voorsiening gemaak deur “te erken dat ’n fout ingesluip het”.

 

Die Vryburger

Die volkseie Internetkoerant, Die Vryburger, was self al die slagoffer van sulke misleiding, en wil daarom sy lesers verseker dat die inligting wat verstrek word, na die beste van ons vermoë nagegaan word, alhoewel daar soms tegniese probleme opduik wat kontrole bemoeilik.

Ons lesers word egter vermaan om nie alles wat op die Internet verskyn, vir soetkoek op te eet nie. Daar is net te veel onwaarhede wat ten doel het om lesers verward en in vertwyfeling te laat.