ANC boikot plaasmoordedebat, Agaang regverdig moorde

Tydens die plaasmoordedebat wat in die parlement gehou is nadat VF Plus dit aangevra het, was dit duidelik dat die ANC weer eens probeer het om die erns daarvan deur rasse bevooroordeeldheid en skeeftrekkings te ignoreer. Daarteenoor het Agaang plaasmoorde geregverdig met die stelling dat boere werkers slegter as varke behandel, wat die rede vir die moorde is.

Boonop het die ANC in groot getalle die debat geboikot, en adv. Anton Alberts van VF+ sê die talle leë ANC-stoele, het gewys dat hulle nie erns maak daarmee nie.  Volgens adv, Alberts het die parlement self ook sy minagting getoon deur komiteesittings te reël in dieselfde tydsgleuf waarin die twee debatte plaasgevind het.

Dr. Pieter Groenewald, VF+ se leier wat die debat aangevra en ingelei het, het gesê dat die waarheid oor plaasmoorde in Suid-Afrika kan nie langer geïgnoreer word nie, en klem gelê op die grusaamheid en wrede aard van plaasmoorde. “Dit is nie gewone misdaad indien mense gemartel word totdat hulle sterf nie, waar ’n vrou ure aaneen verkrag word terwyl haar man gedwing word om dit te aanskou, waar mense se koppe vergruis word en hulle aan die brand gesteek word of waar ’n elektriese boor gebruik word om gate in ’n vrou se voete te boor nie.  In ’n geval by Parys is ’n boer se testikels uitgesny en deur die aanvallers geëet nadat hulle dit gekook het. Dit is die skokkende en ongemaklike waarheid oor plaasmoorde.”

Verskeie deelnemers aan die debat, waaronder Terror Lekota van Cope, het die VF+ nogal ondersteun oor die plaasmoorde, en gesê Zuma skep die klimaat daarvoor met sy opruiende liedjies en aansprake dat grond geneem moet word sonder vergoeding.

Ander ANC-sprekers het kleinlike politieke punte probeer aanteken deur te sê die VF+ het ook nie gereageer oor enkele gevalle waar blanke boere oortree het nie, soos toe die werker in ‘n leeuhok gegooi is of toe werkers geskiet is toe hulle vir diere aangesien is.  Francois Beukman, ANC-LP, het beweer daar is geen bewys dat die vlak van wreedheid in plaasmoorde uniek is nie.

Nathi Nhleko, minister van polisie, het uitsprake veroordeel wat daarop gemik is om die onwettige besetting van plaasgrond aan te spoor.