Almal ewe onbetroubaar

Die slag is gelewer. Jacob Zuma het sy sin gekry. Hy het Pravin Gordhan afgedank op grond van ‘n verslaggie wat vermoedelik deur Zuma self in sy standerd 4 Engels geskryf is. Daardie verslaggie het hy broodnodig gehad om ‘n regverdiging te kry om van Gordhan en die se adjunk ontslae te raak.

Zuma is steeds vriende met die Guptas. Dit het weer duidelik geword toe hy probeer het om as ‘n party toegelaat te word in die saak wat Gordhan gemaak het om ‘n verklarende bevel te kry dat hy nie in banke se sake mag inmeng nie. Dit is deur die Guptas teengestaan, en Zuma wou sy ryk vriende steun. Die hof het Zuma egter nie gelyk gegee nie, en vir ‘n laaste kort oomblik kom Gordhan glimlag oor sy oorwinning oor Zuma.

Uiteindelik is Zuma die baas wat laaste lag. Nou het hy een van sy radikale vertrouelinge aangestel as minister van finansies en daarmee het hy nou toegang tot dit wat nog van die tesourie oor is. Mense wat sê hulle weet sê dat Zuma en sy trawante die land al lank al leeg geplunder het en die bates na die buiteland verskuif het. Daar is egter nog iets oor, en dit moet skynbaar ook geskuif word.

Daar is wyd en syd in media gewag gemaak van die verdeeldheid in ANC-geledere. Daar is selfs stellings gemaak dat sou Zuma vir Gordhan afdank, Zuma se adjunk, Cyril Ramaphosa, en soveel as twaalf ander ministers sou bedank, in ‘n poging om van Zuma ontslae te raak.

‘n Mens kan half sinies vra wat dan?  Zuma het genoeg lojaliste wat graag ‘n kabinetspossie sal wil vul teen aangename vergoeding en byvoordele, en dan is Zuma sommer dadelik van al sy teenstanders ontslae en kan hy die laaste pos vul met ‘n lojalis.

In elk geval moet eers gesien word of dit gaan gebeur.  Cyril Ramaphosa was die eerste een wat gesê het dat alhoewel hy ontevrede is met Gordhan se afdanking, hy nie as adjunkpresident gaan bedank nie. Fout nommer een dus, in die media se wilde bespiegelings.

Tot dusver was geen ander minister so heethoofdig woedend dat hy of sy al bedank het nie, terwyl Gordhan se afdanking reeds van die begin van die week af duidelik word. Hulle kon dus reeds hulle planne gemaak het as hulle wou.

Daar is waarskynlik weinig onder die huidige kabinetslede wat genoeg ruggraat het. Hulle is immers almal lede van die ANC wat dieselfde doelwitte najaag en dieselfde beleid ondersteun.  Gordhan het in die pad van daardie beleid gestaan omdat hy nog wel bepaalde gesonde ekonomiese beginsels probeer handhaaf het, in ‘n poging om beleggings uit die buiteland te trek, sodat daar nog meer is om te verspil deur ‘n onbevoegde en roekelose regering.

Nou is Gordhan weg, en Zuma kon in sy verklaring oor die kabinetskommeling nie vinnig genoeg by die punt uitkom om te verklaar dat dit nodig is vir die radikale transformasie waarmee hy besig is nie. Ons kan nou maar verwag dat die krane teen die blankes van die land oopgedraai gaan word. In die proses het Zuma sommer van een van die laaste wit gesigte in sy kabinet, Derek Hanakom, ook ontslae geraak.

Ons moet egter steeds onthou dat almal van hulle, Pravin Gordhan ingesluit, ANC-lede is en baie van hulle ook lede is van die SA Kommunistiese Party.  Niemand het geloop toe (blanke) boere daarvan beskuldig is dat hulle grond gesteel het nie.  Niemand het geloop toe drakoniese swart bevoordelingswette ingestel is nie. Niemand het geloop toe gepraat word van grondonteiening sonder vergoeding nie, en so kan ons maar aangaan.  Nie Cyril Rampahosa het geloop nie, en ook nie Pravin Gordhan nie, want hulle is dit almal eens met daardie beleid en ideologie.

Ons heil lê beslis nie daarin om Zuma met Ramaphosa of enigiemand anders vervang te kry deur opportunistiese petisies nie. Die Freedom Charter is ook enige opvolger van Zuma se bybel, soos dit syne is. Ons heil lê nie daarin dat Gordhan terug moet kom in sy pos nie. Dit kan dalk die ekonomie so ‘n bietjie stabiliseer, maar dit sal nie hulle anti-blanke en anti-Afrikaner koers enigsins verander nie.

Ons heil lê in ons eendragtige soeke na ‘n alternatiewe bedeling, een waarin ons vry kan wees, en waarin ons Hemelse Vader die oppergesag sal hê. Daardie geloof moet ons behou.

Intussen moet ons bou en werk. Waar die land se ekonomie nou huiwer op die randjie van groot ellende, moet ons juis fokus om ons volksekonomie sterk te maak, en moet ons na middele kyk om ook ons geld van die staatsbestel weg te hou waar enigsins moontlik.

Maar laat ons veral waak teen stroohalms soos ‘n Ramaphosa, Gordhan of Maimane. Almal is uiteindelik ewe onbetroubaar as dit kom by die Afrikaner se wel en wee.