Strukture of mense – perspektief op oplossings

Februarie – ´n gepaste maand om te dink aan nuut begin vanuit donker omstandighede.

Februarie 1881 – ons vier eersdaags Majubadag – is ´n slag gelewer teen Engelse oorheersing, was ons vryheid herwin. Ons ken die geskiedenis; dit is voorwaar ´n verhaal van heldemoed, broederskap en saamstaan.  Maar boweal is dit die verhaal van ´n volk wat in 1880 besef het daar skort iets in die volkshuishouding. En eerder as kompromieë, draai die volk terug!

Dus, wanneer ons na ons volkshuis kyk en wil besluit wie en wat het gepaste oplossings, moet ons die lesse van Paardekraal en Bloedrivier in die oog hou.

Oorwinning lê nie in getalle nie, dit lê nie in gonswoorde of in slagspreuke nie.  Dit lê allermins in oorgawe aan ´n humanistiese grondwet.  Noodwendige aanvaarding van ´n feite-werklikheid noop ons nie om saam met die stroom te dryf nie – dit moet ons aanspoor om daardie werklikheid te verander!

Hierdie sake het ons reeds male sonder tal aangesny.  Maar steeds wil die breë volk resultate sien voordat hulle selfs sal oorweeg om saam te werk – hulle sal eerder oorheers word, vermoor en verkrag word, as om op te staan.

Dit is nie werklik vreemd nie: ons moet besef dat in sekere sin het ons in 1902 baie meer verloor as ons Republieke en ons vryheid.  Ons het tot groot mate die vrede verloor, veral in die laaste vier dekades van die vorige eeu.  Ons volk het stadig maar seker groot hoogtes bereik ná 1902 – maar wie deeglik let, sal sien die leiding en prestasies het gekom uit ons kerklik-kulturele lewe.  En telkens het partypolitiek en vreemde filosofieë daardie (andersins) standhoudende prestasies gekaap en verydel!  Vandag herleef daardie “kaap-en-verydel”-strategie voort uit sekere kringe.

Wat sê dit vir ons wanneer ons oplossings soek en toets?

Soos in 1834-36, moet ons nie vra na die bestemming nie – ons moet trek!  Trek ons saam as volk die toekoms in, in geloof, sal die bestemming mettertyd uitkristalliseer.  Ons moet ons geledere suiwer van die verdelende invloed van partypolitiek.  Die praktisyns daarvan is soos aasvoëls wat wen, veral as die volk verloor!  Maar dit gaan van elkeen van ons, individueel en gesamentlik in volksverband, offers vra!  Iemand gaan moet leiding neem, aanmoedig, (her)bou.  Ons gaan ons eiebelang opsy moet skuif en elkeen weer direk bydrae tot ons samelewings.  Maar ons kan nie bekostig dat dit geskied as deel van volks- en geloofsvreemde strukture nie.

Ons het vele organisasies, ofskoon baie tans op die knieë gedruk is.  Ons moet egter ook leer by ons teëstanders.  R10 klink min – 100 persone se R 10 klink al meer!  1 uur per week klink min, maar een duisend volksgenote wat net 1 uur per week aan die volksaak afstaan, maak ´n gedugte werkmag!

Meeste dorpe het ´n kultuurvereniging, Geloftefeeskomitee of selfs ´n CVO-skool.  Kom ons maak dit sterk, maar kom ons weer ook die reënboog-aanhangers uit daardie organisasies.  Elke tree vorentoe, is een tree nader aan vryheid.