Turkye ontslaan nog duisende werkers

Die Turkse regering het per dekreet die ontslag aangekondig van meer as 10 000 amptenare, polisiebeamptes, en wetenskaplikes.

Die dekreet maak ook voorsiening daarvoor dat dit moontlik is om Turke wat in die buiteland woon, van hulle nasionaliteit te ontneem.

Die optrede volg na die mislukte staatsgreep wat verlede jaar Julie uitgevoer is en waarvan medepligtiges steeds uitgeruik word.

Ingevolge die dekreet kan bevel gegee word dat iemand sy of haar  staatsburgerskap verloor, wat die maande lange heksejag op burgerlikes verder vererger en mense ontwrig wat onskuldig is aan enige oortreding.

Die regering van president Erdogan hou die Gülen-beweging verantwoordelik vir die mislukte staatsgreep om sy regering omver te gooi, en vervolg nou enige burgerlike wat verbind word aan die beweging.

Die Turkse parlement het die noodtoestand in die land verleng tot 19 April en dit word beskou as ’n maatreël nadat talle mense gedood en beseer is deur ’n terreuraanval by ’n Turkse nagklub.