Trump kondig perskonferensie aan

Getrou aan sy nuwe metodes van optrede, weg van die “establishment” se gewoontes, het die nuutverkose president van Amerika, Donald Trump, aangekondig dat hy op 11 Januarie ’n algemene perskonferensie sal hou in New York.

Dit sal die eerste perskonferensie wees wat Trump hou nadat hy die presidentsverkiesing gewen het, en is deur die verlinkse CNN hewig gekritiseer daaroor.

Trump het die gebruik om kort na die verkiesing as president, die pers uit te nooi na ’n konferensie, totaal geïgnoreer en sy standpunte aan die kiesers deurgegee op die sosiale netwerk waar meer as 42 miljoen mense hom volg.

Donald Trump het gedurende sy verkiesingsveldtog die pers gewaarsku om nie voort te gaan met valse propaganda wat hom benadeel nie, en gesê hy sal mettertyd daarmee handel.

Die gevolg is dat Trump nie konferensies aangebied het nie, en moes die pers maar tevrede wees met die kort stellings en menings wat hy op die sosiale netwerk geplaas het ter wille van die miljoene kiesers.

Trump het vroeër aangekondig dat hy die sakebedryf oordra aan sy kinders sodat hy voltyds kan fokus op sy taak as president, maar die pers het ook dié maatreël uit verband geruk deur te kenne te gee dat hy daarmee probeer om die botsende belange uit te skakel.

CNN het intussen met ’n gesanik begin omdat hulle nie ’n onderhoud met die nuutverkose president kry nie, maar kenners meen dit is die munt waarmee hulle terugbetaal word vir al die valse propaganda van vroeër om hom te benadeel.