Steun Afrisake die ANC regering?

Die hofaansoek wat Afrisake en Afriforum gebring het, wek by duisende kiesers die indruk dat die twee instansies nou ten gunste van die ANC optree.

Kiesers is van mening dat die vakbond se filiale met ’n hofgeding toon dat hulle die ANC rade se wanbetalings goedkeur en daarmee Eskom se optrede teen sulke wanbetalers teenstaan.

Die aansoek wat gebring is teen Eskom wat beplan om vandag die krag af te skakel by munisipale gebiede waarvan die rekening lank uitstaande is, word gewoonlik op die laaste nippertjie deur onderhandelings verhoed, en verskeie voorbeelde daarvan is bekend.

Die feit dat die vakbond Solidariteit sy filiale toelaat om ’n hofgeding aan te gaan teen Eskom, wek die indruk dat hulle die lede se geld verkwis en die ANC rade ondersteun wat nie hulle betalings maak nie.

Die meerderheid kiesers van so ’n munisipaliteit het mos gestem vir die vrotsige raad wat nie sy verpligtinge nakom nie, en hulle moet maar tevrede wees met wat die verkose raad aanvang.

Die vakbond sou veel beter gedoen het as hy die twee partye oortuig het om met mekaar te onderhandel oor betalings wat gemaak moet word, en daarmee nie duisende Rand verkwis het op ’n nuttelose hofsaak nie.

Die vakbond is blykbaar net begaan oor hoeveel publisiteit hy kan opwek, want dit help hom om die verarmde blankes se laaste bietjie geld in te palm.

Frik Stander