Sjina beplan reuse groenkrag projek

Die kommunistiese regering van Sjina het aangekondig dat die land ’n reuse groenkrag aanleg wil oprig om die geweldige lugbesoedeling teen te werk wat miljoene mense se lewens in gevaar stel.

Die regering beplan om $361 biljoen te spandeer in die aanwending van die projek teen 2020, om daarmee ’n beweging weg van fossiel brandstof te begin.

Die projek maak voorsiening vir die oprigting van massiewe sonplase asook windplase, hidro-elektriese opwekking en kernkragsentrales.

Met die projek sal sowat die helfte van die land se energie gelewer kan word met die gevolglike vermindering in lugbesoedeling.

Die Sjinese Nasionale Energie Administrasie het in ’n verklaring ’n bloudruk dokument bekendgestel wat die projek aankondig en breedvoerig uiteensit hoe dit ontwikkel sal word in die volgende vier jaar tot 2020.

Verlede jaar was Sjina die wêreld se grootste verbruiker van sonenergie, en wil die voordelige stelsel nou maksimaal ontgin.

Die nuwe projek sal Sjina se steenkoolverbruik met miljoene ton verminder, en die verwagting is dat dit minstens 30% sal afneem van die 4 biljoen ton wat jaarliks verbruik word.

Ongeveer 1 000 groot sonplase sal opgerig word saam met honderde windplase as eerste fase, waarna hidro-kragsentrales en kernkragsentrales opgerig gaan word.

Nagenoeg 200 gigawatt sal met sonenergie opgewek word en 250 gigawatt met windenergie teen die einde van 2020.

Die land het in 2016 meer as $110 biljoen aangewend om skoon energie op te wek met son- en windkrag.

Sjina het met die massaproduksie van sonpanele die koste daarvan met 40% laat krimp, wat die nuwe uitbreidings aansienlik meer ekonomies maak.