Onderwysjaar begin chaoties

Die ANC-regering se onderwysowerhede begin die nuwe skooljaar in chaos nadat hulle nie in staat was om leerlinge by skole geplaas te kry nie.

Die onderwysvakbond Sadou beweer dat sowat 60 000 leerlinge nog nie geplaas kon word nie, en die Gautengse onderwysdepartement erken dat hulle met die hande in die hare sit omdat ongeveer 70 000 laat aansoeke ontvang is.

By universiteite gaan dit nie veel beter nie.

Nadat soveel matrikulante eksamentoelating gekry het omdat die slaagsyfers verlaag is, wil almal nou gratis universiteitsonderrig ontvang. Die Universiteit van die Witwatersrand het sowat 69 000 aansoeke van matrikulante gekry, maar hulle kan hulle nie akkommodeer nie. Die universiteit het matrikulante aangeraai om alternatiewe te oorweeg wanneer hulle ‘n loopbaan kies.

Die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie het ongeveer 35 000 nuwe aansoeke ontvang, wat vier keer méér is as die plek wat hulle beskikbaar het vir eerstejaarstudente.