Le Pen steun Russe in Krim

Marine Le Pen het haar steun toegesê aan die Russiese president, Vladimir Poetin, se oorname van die Krim-Skiereiland in die ooste van die Oekraïne.

Sy sê die bewering dat die afskeiding van die Krim-gebied onwettig was, is nie korrek nie, want ’n demokratiese referendum is in die gebied gehou waar meer as 90% van die kiesers ten gunste van afskeiding gestem het.

Gedurende 2014 het die inwoners van die Krim-gebied ’n referendum gehou waartydens oorweldigende steun gegee is aan afskeiding van die Oekraïne.

Tydens ’n onderhoud met die Franse televisiekanaal BFM het die leier van die Front Nasionaal gesê daar is geen fout gevind met die referendum nie, en daarom het sy geen probleem met die beslissing nie.

Le Pen het onomwonde gesê sy verskil geheel en al met die bewering dat dit ’n onwettige anneksasie van die gebied was.

Sy se die referendum was vry en regverdig, en die kiesers het gestem om die gebied in te skakel by Rusland en nie by die Oekraïne nie.

Sy het daarop gewys dat daar talle hooggeplaastes in die Franse Republikeinse Party is wat dieselfde mening as sy oor die onderwerp het, en bygevoeg dat die party reeds twee keer ’n afvaardiging van parlementslede na die Krim-gebied gestuur het om hulle te vergewis van die feite, en hulle huldig dieselfde siening as sy oor die aangeleentheid.

Intussen het die regering van die Oekraïne teruggekap en gesê hulle maak beswaar oor die Franse dame se benadeling van die Oekraïne se soewereiniteit.

Foto – Marine Le Pen