Internasionale perspektief op volksvryheid

PerspektiefMense eien makliker probleme en vergrype in ander se lewens, of dan in die lewensomstandighede van ander volke in ander lande.

By die aanvang van 2016 was die gebruiklike retoriek steeds minagtend teenoor sogenaamde “regses”, “fasciste” en selfs erger – natuurlik verwysend na enige (breedweg) konserwatiewe groepering, by uitstek enige aanhanger van volksnasionalisme.

Selfs kragtige drukgroepe kan nie die anti-Israel sentiment so maklik soos in die verlede deflekteer nie.

Sedertdien is Brexit en ´n Trump-presidentskap feite, word Europa verswelg deur Islam-moordbendes en skep die 2017-verkiesingseisoen paniek onder maghebbers op die Europese vasteland.

Afrika het oorgegaan tot ´n era waar sporadiese geweld en volksmoorde al minder plaasvind, terwyl lae-intensiteit etniese geweld die nuwe norm geword het

Die Midde-Ooste en die nadraai van “demokrasie” uit die sogenaamde Arabiese lente eis steeds duisende lewens elke maand.

Doodeenvoudig gestel: wêreldwyd het integrasie misluk, en die paai-politiek van verloopte Westerse regerings het minder meer sukses as Chamberlain in 1938/39.

Wat beteken dit vir Suid-Afrika, spesifiek vir ons volk se vryheid?

Dat ons die blinde na-apery van die VSA en Europa moet laat vaar!

Ons moet voorts die partypolitici en ander groeperinge wat volhard om die skim van “demokrasie” buite volksverband propageer, te verwerp – net soos die kieserspubliek in Brittanje en die VSA die korrupte bedelings aldaar begin verwerp.

Soos die wrange vrugte van sosiale eksperimente sedert die laat 1940’s in die “Weste” nou tot volle ontplooiing kom, wil hoofstroom politieke partye, vakbonde en ander in SA opsluit dieselfde mislukkings hier herhaal.

Waar ons nou reeds 2017 binnegegaan het, moet ons onsself as volk voorneem om enige persoon of groep wat as “leier” wil staan, te onderwerp aan die strengste toets van hul integriteit.

Ons moet wegdoen met die blatante geldhonger deur aan te dring op suiwer tegnokratiese regering – politici moet diens lewer, nie teen vergoeding nie, maar ter wille van oortuiging.

Vergoeding is beskore slegs vir diegene wat daadwerklike dienste lewer, tot voordeel van die volk.

Ons moet ons mense in beweging bring om eie strukture nie net te ondersteun nie, maar sterk te maak en te beskerm teen die sosialistiese seekat wat reeds soveel van ons instellings ingepalm het.

Mense moet weer SELF hand aan die ploeg slaan: eie arbeid is die sleutel, en ons moet ons volksekonomie na behore op dreef bring deur onderlinge steun.

En wanneer ons mense begin om in opregtheid biddend te werk, mag ons wel weer begin koester na volhoubare vrug op ons volksarbeid.