Dronkbestuur gelyk aan moord?

Vanjaar se padsterftesyfer is 5% hoër as verlede jaar, terwyl daar 17% meer ongelukke voorgekom het gedurende die vakansietyd.

Volgens syfers wat gister bekendgemaak is, blyk dit dat 1 714 mense vanjaar gedurende die vakansietyd op Suid-Afrikaanse paaie gesterf het.

Daar is ook 5 943 motoriste vir bestuur onder die invloed van drank aangekeer, en 9 175 het hulle skuldig gemaak aan spoedoortredings.

Tydens vanjaar se padslagting het minibus taxi’s ‘n groot rol gespeel. Hierdie afdeling van die openbare vervoerbedryf is berug vir hulle ignorering van verkeersreëls, hulle onverdraagsaamheid op die paaie en die swak toestand van hulle voertuie. Nogtans word hulle aandeel in die padslagting om polities korrekte redes nie uitgewys nie.

Die minister van Vervoer het daarenteen aangekondig dat sy dronkbestuur ‘n Bylae 5-misdryf wil maak, wat dit net so ‘n ernstige misdryf as moord en verkragting sal maak.