Die waarheid van ‘n SA matriek

In die afgelope dae het ons verneem dat BCVO-geaffilieerde skole ´n 98,4% matriek-slaagsyfer behaal het.  IEB resultate in geheel was 98,67%.

Dit is die vrug van harde werk, maar veral van gehalte onderrig.  Die sterkste presteerder is BCVO – gehalte onderrig, moedertaal onderrig, maar boweal Christelik-gegronde onderrig.

In 2017 en verder is dit veral laasgenoemde grondslag wat ons met jaloersheid gaan moet beskerm, want die onderrig van ons kinders strek veel verder as blote skolastiese opleiding. Die sleutel tot ware wysheid en volhoubare sukses lê immers in ´n suiwer geloofslewe.

Verlede week het die land verneem dat staatskole se matriek slaagsyfer sogenaamd 72,5% was.  “Sogenaamd”, want punte is sonder verwysing na enige objektiewe maatstaf opwaarts aangepas, op wyses wat die regering geheim probeer hou het.  Voorts is “gepromoveerde kandidate” se resultate uitgesluit – dit is nou diegene wat ´n onverdiende matriek ontvang omdat hulle nie in staat was om graad 11 te slaag nie!

Die minister van Basiese Onderwys, haar departement en Umalusi verdedig egter die aansuiwerings en gevolglik fiktiewe uitslae, deur onder andere kritici te beskuldig dat hulle nie die “ingewikkeldheid van die proses” verstaan nie.

Ek, en ek meen enige redelike persoon, het nuus vir die minister en haar gevolg:  Onderwys en die meting van onderwys-uitkomste teen ´n aanvaarbare resultaat is nie ingewikkeld nie. Dit is so eenvoudig as om te vra of ´n matrikulant kan lees, skryf, wiskunde doen of vakkennis toepas.

Universiteite se druipsyfers, studie-opskorting en die toenemende onvermoë van jong werksoekers spreek vanself.

Inteendeel, juis die universiteite waarheen “matrikulante” nou aspireer, het reeds vir jare ´n reeks verpligte oorbruggingskursusse op eerstejaarvlak, juis omdat staatskole funksioneel ongeletterde “matrikulante” oplewer.

Die groter duiwel lê spreekwoordelik in die besonderhede van vakprestasies:  ´n Wiskunde slaagsyfer van 27%, wetenskappe 37%, besigheidstudies 33% en inligtingstegnolgie 54%, is dit duidelik dat matrikulante weinig begrip het van die enkele sleutelvakke.  Selfs huistaal-prestasies skiet tragies kort – dit spreek boekdele indien skoliere te lui is om selfs in hul huistaal te presteer.

Uiteindelik beteken dit ook dat die befondsing van staatskole uit belasting onregverdigbaar geword het.

Verder, uit hoofde van die regime se onderdrukkende kwotastelsels, gaan universiteitstoelating tot groot mate gereserveer word vir hierdie poel kandidate wat weinig vermoë tot verdere studie getoon het.  En beursfondse en belastinglenings gaan steeds in die put van onverhaalbare “studiehulp” gestort word.

En uiteindelik gaan indiensnemingsdiskriminasie ons kinders ´n derde maal straf vir ander se onvermoë.

Die antwoord staar elke Verbondsouer in die gesig:  Maak ons CVO skole sterker, maar waak oor wie ons toelaat;

Maak ons eie universiteit sterker, en behou die Christelike etos;

Versterk ons volksekonomie, dat ons ons kinders van indiensneming kan verseker.

Om opnuut opofferings daarvoor te maak, word nou gebiedend noodsaaklik, maar dan op suiwer gereformeerde grondslag en met uitsluiting van die pro-humanistiese oplossings wat meen die disfunksionele nuwe SA kan herstel word.