Brexit is oorsaak vir Britse verdeeldheid

Die ernstige verdeeldheid wat tans onder Britse kiesers heers, word weerspieël in die skielike en onverwagse uittrede van die Britse ambassadeur by die Europese Unie.

Ivan Rogers het as Britse ambassadeur onverwags sy uittrede aangekondig, en die stap is later deur die Britse ministerie van Buitelandse Sake bevestig, maar wou geen redes verstrek vir die skielike uittrede nie.

Rogers word beskou as een van die mees kundige persone waaroor Brittanje beskik om die uittrede uit die Europese Unie te bestuur.

Die skielike uittrede van Rogers kom op ’n ongeleë stadium vir die Britse eerste minister, Theresa May wat in die volgende maande die eerste stappe moet neem om uit die Europese Unie te tree as lidland.

Waarnemers en politieke ontleders in Brittanje meen die uittrede toon watter negatiewe invloed die Brexit-besluit uitoefen op Brittanje.

In meningspeilings is gevind dat die lede van die verskillende politieke partye onderling verskil oor die uittrede uit die EU, en het gevind dat bykans 40% van die Konserwatiewe Party se ondersteuners ten gunste van uittrede is, terwyl ’n soortgelyke persentasie van die Arbeiders ook ten gunste van uittrede is.

Kenners meen die gegewens maak dat ’n komende algemene verkiesing se uitslag uiters moeilik voorspelbaar sal wees.

Die linkse media in Brittanje maak nou ten volle gebruik van die situasie en elke negatiewe gebeurtenis word oor die boeg van Brexit gegooi om kiesers nog verder te verdeel en te verwar.

Parlementslid Dunkin Smith het later gesê dit blyk dat die ambassadeur sy persoonlike sienings in die openbaar bekendgemaak het, en dus nie vertrou kan word nie.