Bank van Engeland erken sy groot fout

Die hoofekonoom van die Bank van Engeland, Andy Haldane, moes uiteindelik toegee dat die Bank se uitermatige pessimisme oor die gevolge van uittrede uit die Europese Unie, ’n reuse flater was.

Die ekonoom het erken dat sy voorspelling oor hoe die land benadeel sal word as die kiesers ten gunste van uittrede sou besluit, nie korrek was nie.

Hy sê die voorspelling kan vergelyk word met die enorme fout wat gemaak is in 1987 toe die BBC ’n weerberig gedra het oor ’n groot storm wat toe nooit gekom het nie.

Die media het na aanleiding van die Bank van Engeland se voorspellings, gal gebraak oor hoe Brexit die land ekonomies sal ruïneer en elke belastingbetaler benadeel gaan word as gevolg van die besluit.

Politieke ontleders sê die Bank van Engeland het waarskynlik met opset die voorspelling gemaak in ’n poging om kiesers te beïnvloed en later selfs gehoop dat die referendum se uitslag geïgnoreer sal word.

Nou, na vele maande van onnodige kwellings, en die deurlopende versekering dat Brexit nie ’n negatiewe invloed op die kiesers sal hê nie, het die Bank van Engeland “sy fout ontdek”.

Die Bank van Engeland het waarskynlik die werklikheid besef toe die Britse ekonomie sedert die referendum dramatiese groei getoon het wat bewys dat Brexit die regte keuse is.

Die Britse ekonomie het nie net aansienlik beter gegroei in die afgelope paar maande nie, maar toon ook ’n groter weerbaarheid as voorheen.

Die hoofekonoom van die Bank van Engeland het erken dat die Britse ekonome tans in ’n ongeloofwaardige krisis is waaraan dringend gewerk moet word.

Foto – Bank van Engeland Hoofgebou