Tragiese perspektief van Jopie Fourie se lewe en dood

PerspektiefOp 20 Desember was dit 102 jaar sedert die kwasi-juridiese moord op kommandant Jopie Fourie.

Self al sou mens die Botha-Smuts regering se bewerings op sigwaarde aanvaar, was die oorhaastige veroordeling en teregstelling van Fourie doodgewoon bedoel as ‘n daad van wraak.

Voorts spreek die hele aanloop tot die Rebellie van ´n arrogante, selfdienende en verskuilde agenda deur Botha en Smuts; en al was Smuts (histories beskou) die sentrale figuur in hierdie vergryp teen ons volk, staan Botha skuldig omdat hy Smuts laat begaan het.  Alles ter wille van eie persoonlike eer uit die hand van ´n gehate vyand.

Ons is bekend met die geskiedenis – ten minste die geskiedenis soos dit algemeen aanvaar word.  Daar is volhardende mymeringe dat Jopie Fourie wél bedank het as offisier – insiggewend nog nie bewys nie, maar tog volhard die spekulasie reeds dekades lank.

Sal die volle waarheid oor die opperste regsvergryp in ons regsgeskiedenis eendag ontbloot word?  Want dat Smuts uit die staanspoor die waarheid verdoesel het, is reeds genoegsaam bewys.

Maar ons moet ook uit hierdie tragiese hoofstuk die lesse neem wat ons kan, om nie dieselfde foute te begaan nie.

Een van die grootste lesse is dat reg altyd sál geskied – uiteindelik sou uit die Rebellie ´n gesonde volksnasionalisme groei, ´n volksnasionalisme wat leiers soos Hertzog (vader én seun), Malan en Verwoerd na vore sou druk, wat ´n volk weer rigting sou gee om uiteindelik ´n eerstewêreldland te bou.

Maar dit sou ook leer dat selfs wanneer jou saak reg is, jou motiewe edel is, kan verkeerde bondgenootskappe en heethoofdige optrede net in trane eindig.  Jopie Fourie het by uitstek sy volk se belang op die hart gedra, maar uiteindelik sou die ongeduld van heethoofde uit Rebelle-geledere lei tot geweld.

Natuurlik is daardie geweld ontlok deur Smuts en Botha se onderduimse optrede – maar die les is ongelukkig dat al sal ware reg uiteindelik seëvier, mag die waarskuwing dat in die kort termyn mag noodlottig reg is, nie uit die oog verloor word nie.

Miskien was die doodskoot van regmatige protes geskiet in langlaagte …

Maar die hartseerste les is sekerlik dat terwyl die meerderheid Rebelle hul volksaak voorop wou stel, hulle verkeerdelik gehoop het op populêre steun.  In stede van steun was daar onbetrokkenheid.

Ofskoon Botha, Smuts en ander in hul (politieke) kring baie vroeg reeds pro-Engels geraak het, en vir hul eie gewin dus die rug op die volk en volksvryheid gedraai het, het weinig “voetvolk” die leiers van die Rebelle gevolg.

Waarom?  Hierdie, en ander vrae roep om ´n antwoord, veral vandag.

Waarom wil ons volk praat oor vryheid, maar wil nie waag of werk vir vryheid nie?  Waarom wil soveel eerder valse kompromisse sluit met die wêreldgesinde strukture van ons tyd?

Die antwoorde hierop is van sleutelbelang vandag, want ons wat steeds die vryheidsvlam van ons volk in ons harte dra, en wat elke dag daarna strewe en werk, moet besef hoe groot ons uitdaging werklik is.

Ons moet daarom ook elke oomblik besef dat om te werk na volksvryheid is ´n ultra-marathon – inteendeel, vryheid is ´n nimmereindigende wedloop, sonder definitiewe eindpunt.

Tog is die laaste lesse wat ons kan leer die volgende:

Eerstens, dat die vryheidsvlam dalk laag kan brand, dalk selfs kan kwyn tot enkele vonkies.  Maar wanneer daardie vonkies ontbrand …

Veral kan ons leer dat bó alles beskik God.  En daarin begin ons die antwoorde vind op ons vrae – die stryd om vryheid begin by absolute oorgawe aan die wil van God, soos ons skaars ´n week gelede opnuut bevestig het.

Dit vereis van ons ´n quo vadis-omkeer, veral in volksverband. Dit vereis van ons geduld – terwyl ons in ons huidige omstandighede sekerlik die begeerte koester om weer vry te wees, moet ons met geduld wag op die tyd beskik deur God.

Intussen mag – móét – ons gelowig elke dag die vryheidsreis aanpak, by die skool, by die werk, in ons besighede en in ons huise, kortom, op elke lewensterrein.

Miskien is die finale antwoord tans, dat wanneer ´n volk strewe en vra na vryheid, terwyl ons volkslewe kollektief lyk soos ons lees in die dagblaaie en sien in die media, kan daardie volk werklik uitkoms verwag?