Perspektief op gelyke onderwys geleenthede

Perspektief“Gelykheid” is die kriteria wat die ANC graag aanlê wanneer dit hul sosio-politieke agenda pas;  “gelykheid” is ook die mite wat die humanis aan ons wil opdis. (Vir die Christen is gelykheid onaanvaarbaar, omdat die skepping spreek van wonderbaarlike verskeidenheid; dit is wel so dat mense gelykwaardig is, alhoewel sommige – die meerderheid – ongehoorsaam aan hul roeping, eiewillig in boosheid lewe.)

Nadat ons verlede week die onderskeid tussen waardebegronde onderwys, en mislukte staatsonderwys oorweeg het, is verdere skokgolwe deur die onderwys gevoel hierdie afgelope week.

Eers is aangekondig dat, op suiwer rasdiskriminerende gronde, swart leerlinge ´n 3% onverdiende verhoging in vakpunte sal ontvang tot 2022.  Die “kwalifikasie” van onderrig in ´n taal anders as hul Afrika-huistaal is bloot ´n verskoning om die “pass one, pass all” van die Vryheidsmanifes nog ´n tree nader aan toepassing te bring.

Later is aangekondig dat 20% in wiskunde as slaagsyfer beskou kan word – weer eens met welluidende “voorwaardes”.

Die staat stel hul perspektief weer eens in terme van “gelykheid”; maar selfs hul eie maatstaf klink maar hol indien die toepassing slegs swart leerlinge, of onderpresteerders, bevoordeel.

Wat is die ware perspektief op hierdie beleidsaankondigings?

Ons volk arbei reeds eeue aan moedertaalonderrig, omdat dit bewese voordeel inhou.

Die ANC, teen alle rasionele bewyse in, verengels die onderwys, met voorspelbare verval.

Nou wil hulle bloot een groep op rassistiese wyse bevoordeel, terwyl ons kinders sigbaar tweedeklas behandeling kry.

Ons sien ook dat beginselbegronde onderrig noodwendig ook gehalte onderrig is – en gehalte onderrig stel leerlinge en studente in staat om aanpasbaar te wees.  Ons sien dat Afrikanerkinders hulself heel goed kan handhaaf met studie in hul tweede taal!

Gegewe dat skoolonderrig slegs 12 jaar behels, is die tweede volledige geslag skoliere onder ANC-onderwys tans in die skoolbanke – dus spreek hierdie beleid van ´n klaaglike mislukking.

Daarom is die enigste afleiding dat die teikengroep van hierdie rassistiese voordeel klaarblyklik nie in staat is om op gelyke vlak mee te ding nie.   Meer nog – is dit miskien ´n erkenning van die inherente onvermoë van sekere kulture en afwykende lewensbeskouings?  Besluit maar self.

Daar is egter ´n meer ingrypende perspektief, wat die rassisme van die nuwe SA opnuut tuisbring.

Nie net word ons kinders die teiken van aanslae teen hul moedertaal- en waardebegronde onderrig nie, hierdie nuwe beleid is verder gemik op die aktiewe onderdrukking van presterende blanke kinders en die ontmoediging van gebalanseerde prestasie.

Want die blanke kind sien dat waarvoor hy/sy hard moet werk en opoffer, sonder verdienste aan swart leerlinge gegee word.  Dit werk noodwendig demotiverend op jongmense.

Maar dan moet hulle ook met daardie onderpresterende massa meeding vir toelating tot verdere studie, en uiteindelik om werkgeleenthede.  En op elke tree word daar (deur wetgewing) enersyds rassistiese voorkeur aan swart kandidate, en nydige struikelblokke in die weg van blanke kandidate, gelê.

Ten slotte: die gelatenheid waarmee politieke partye en ander hierdie vergryp teen ons kinders aanvaar, spreek boekdele…

Ons het verlede week opnuut uitgewys dat waardebegronde onderwys die fondament is van volksbou.  Die meerderheid van die naïewe navolgers van die nuwe SA en sy gebroke openbare (staat)skole stelsel gaan moet besef die enigste oplossing vir onderwys, trouens vir elke aspek van ons lewe, lê in die aanvaarding van gelykwaardigheid, maar óók aanvaarding van inherente verskeidenheid, wat slegs in afsonderlikheid tot volle ontplooiing kan kom vir minderhede.

Dan sal elkeen slegs die vrug van sy/haar eie arbeid pluk.  Wie dan deur harde werk uitblink, sal nie meer daarvoor gestraf word nie.