Op die volksakker – Roem en eer?

Volksakker16 Desember, Geloftedag lê voor die deur.  Met dankbare hoop sien gereelde Geloftedag-gangers uit na nóg ´n jaar van beter bywoning – ´n neiging wat die afgelope ongeveer vyf jaar merkbaar geword het.

Na ´n uitsonderlik strawwe jaar, selfs vir die ruwe, nuwe SA, met ´n 2017 wat toenemend donker vooruitsigte het van verhoogde belasting, verskerpte rassisme teen ons volk en in ´n tyd waarin ons verneem dat die volksmoord slagoffertal styg, kan ons dalk begin om ons die omstandighede van 1838 in te dink.

Dog ook nie as volk in geheel nie: vele “versoen” hulle steeds met verskuilde knegskap – knegskap nie net aan ´n erbarmelose, kommunistiese regime nie, maar knegskap aan humanisme en materialisme.  In hierdie afvalligheid word die meerderheid van die Geloftevolk in 2016 steeds gesterk deur die “burgerlike samelewing”, met hulle “pas aan of sterf” mantra.

Wanneer ons dan op 16 Desember in die spieël van realiteit ons Gelofte-onderhouding beoordeel, gaan dit brute eerlikheid verg van elke volksgenoot.

Veral daardie volksgenoot wat opreg Geloftedag herdenk.

Is ons GelofteVOLK, of het ons reeds groepe Gelofte-onderhouers geword?

Daarmee saam ´n nóg ingrypender vraag: is die groei in Gelofte-onderhouding dít – onderhouding – of ontaard dit in ´n demonstratiewe bywoning van Geloftedag in die hoop op herstel van ons volk se wêreldse heerskappy? Want Geloftevolk is slegs Geloftevolk indien ons bereid is om eerlik te vra of ons sedert 1838 die roem en die eer vir die oorwinning aan onsself, of aan God, gegee het.

Veelvuldige antwoorde deur die geslagte – so leer ons ook uit ons geskiedenis – is die hartseer antwoord.  Maar as Geloftevolk – gereformeerde Christene – het ons die wondergawe dat ons kan regmaak wat vorige geslagte dalk verbrou het, en wat onsself beslis verbrou het.

Die vraag is of ons dit gaan doen, want ons geslag staan seker as die mees skuldige wanneer dit kom by versaking van hierdie Gelofte-aspek.

Ten diepste word die roem en eer aan God gegee deur as Geloftevolk elke dag opreg te lewe na Gods eer, dit wil sê as lig vir die donker kontinent.  Maar ons volk het ter wille van materiële gewin die donker omhels!

Verder word die roem en eer aan God gegee deur as Geloftevolk ons vyand nie te onderdruk nie, maar te kersten, op te tree in beste belang van elke landsinwoner.

Ná 1966 is hierdie roeping versaak tot die punt van vrywillige oorgawe aan die kommunisme.  Hierin is nie net die Gelofte van Bloedrivier nie, maar die Gelofte van 1654 gruwelik versaak – weer eens “ter wille van …”

Vandag word ons wysgemaak dat die weg van “versoening”, die humanisme met sy leef en laat leef, die antwoord bied vir ons toekoms.  Nie klinkklare beginsel-lewe as Geloftevolk nie, maar papbroekige wêreldgelykvormigheid!

Die prentjie lyk inderdaad donker.  Maar die Lig wink vir elkeen wat omkeer – wat die Quo Vadis? antwoord onbeskroomd uitleef, want genade is altyd daar wanneer opregte berou en inkeer beslag vind!

Soos die kommando egter in 1838 in geloof moes vertrek en hul laers – vrou en kind – agterlaat en trek na ´n onbekende uitkoms, moet ons wat Geloftedag opreg herdenk, vandag weer opsaal, geestelik maar ook prakties elke dag, en trek na waar ons volksroeping steeds wink.

Ons gaan dalk nie vrou en kind moet agterlaat nie, maar ons móét ´n duidelike streep in die sand trek en die aanhangers van die humanisme vir eens agterlaat.

Afrikaner is Christen, Gereformeerde Christen; ons geloof, taal, ons geskiedenis en kultuur koester ons omdát dit genadegawes is, nie omdat dit ons beter maak as ander nie.  Maar ons erken en waardeer ons uniekheid, die geskape onderskeid, maar dit moet in nederige erkentlikheid wees!

Daarom moet ons as (ongelukkig) kleiner Geloftevolk opstaan en elkeen wat die Gelofte in woord of daad skaad, vaarwel roep en duidelik die deur wys – hulle wil dan Afrikane wees, nie Afrikaners nie!

En sou hul eendag tot inkeer kom, gaan ons as Geloftevolk hul weer moet terugverwelkom, maar tot dan trek ons voort op pad na reg, op pad na vryheid.