Op die volksakker – Rentmeesterskap of privaatheid

VolksakkerDit sal weinig regdenkendes verbaas dat Zuma die FAIS-wysigingswet as “ongrondwetlik” na die Nasionale Vergadering terugverwys het.

(FAIS-wetgewing het ten doel om deur “inligting” euwels soos geldwassery, bedrog en ander misbruike hok te slaan – iets wat tot hede grootliks gefaal het, juis omdat banke altyd skuiwergate vind om “invloed-ryk-e” mense te help, vir die regte fooi natuurlik)

Die wysigings het onder andere ten doel gehad om openbare amptenare se finansiële sake oop te stel vir ondersoek – die enigste redelike teenvoeter vir die Afrika-korrupsie wat besig is om ons ekonomie te verorber.

Dit sou kwansuis politici –  ontvangers van onregmatige geld – se “privaatheid” skend.

Op die oog af klink die stelling redelik, tog laat dit die vraag:  Waar lê die skeidslyn tussen privaatheid en gedwonge rentmeesterskap? Duidelik het eerlikheid, integriteit en oorsigmeganismes klaaglik misluk om die spiraal van politieke korrupsie wat sedert 1994 sy loop geneem het, in bedwang te bring.

Van die 1990’s se skandale waarin parlementslede van alle partye hulle vergryp het aan reis- en behuisingsvoordele, en bes moontlik steeds doen, tot die wapenskandaal waaruit almal binne ANC-geledere persoonlik verryk is – insluitend juis Mandela, wat vandag deur burgerregtegroepe as teenpool vir Zuma voorgehou word.  Die vergrype onder Zuma is bloot die derde hoofstuk in die verhaal van korrupsie, selfverryking en invloed-politiek.

En hierdie konteks en realiteit van inherente politieke oneerlikheid gee aan ons die antwoord:  nie net is gedwonge rentmeesterskap en openbaarmaking van alle finansiële belange deur openbare amptenare wenslik nie, dit is gebiedend noodsaaklik.  Meer nog: dit behoort te geld vir elke individu wat direk of indirek met openbare geld werk, van die president tot die klerikale personeel by die kleinste munisipaliteit.

Veral politici se belange hoort volledig openbaar gemaak word, sónder voorbehoud.

Daar moet veral klem gelê word op strukture soos trusts, verskuilde belange en die bewese neiging onder politici om hul belange te verskans in die name van familie, professionele adviseurs en selfs oorsee.

Politici behoort verder verbied te word om enige buitelandse belange te hou – hul moet immers verseker dat die gewone man se plaaslike toekoms hier verseker word!

Daar behoort verder deeglike oorsig te wees oor politici se sakebelange voor, tydens en ná termyne van openbare diens.  Die wanpraktyk om na uittrede by sekere maatskappye in te skakel “ter wille van aftrede” moet veral hokgeslaan word – dit spreek minstens van die potensiaal van onbehoorlike invloede.

Uiteindelik het openbare amptenare op elke vlak géén gewaande “reg” op privaatheid nie.  Twee dekades van bandelose korrupsie op elke vlak en uit elke politieke party het dit bewys.