Leiers of leierskap – ‘n Gelofte-perspektief

PerspektiefIn hierdie rubriek is reeds meermale oorweging geskenk aan leiers en leierskap.

Ons volk het ´n versugting na ´n leier – iemand om die volksleisels stewig vas te vat en leiding te neem in die herstel van ons vryheid.  Menings oor hoe dit bereik kan word, wie die aangewese “leier” behoort te wees, of die eienskappe waaroor die “leier” moet beskik, is uiteenlopend.

In die tydsgewrig van humanisme word hoog opgegee oor die sogenaamde “sleutelrol” van die burgerlike samelewing – ´n gerieflike versamelnaam vir ´n uiteenlopende verskeidenheid individue, organisasies en bewegings, van haas elke oortuiging en ongeloof.

Maar wanneer ons die lig van die Gelofte laat val op elkeen van hierdie, skiet elke voorgestelde oplossing en elke aangewese organisasie of beweging, en veral vele wat aspireer na “leierskap” in die hoofstroom, klaaglik tekort.

Die grootste tekortkoming is dat die suksesmaatstawwe wat gestel word, suiwer fokus op getalsterkte en hoe om die heidense status quo bloot aan te pas om bepaalde groepsbelange te bevorder.

Daar is ´n algehele afwesigheid van gereformeerde grondslag en ´n algehele onwilligheid om grondliggend terug te keer na reg, billikheid en geloofsuiwerheid.

Dit is die eerste les wat ons leer uit die trek van Sooilaer na Bloedrivier: die noodsaak van absolute geloofsoorgawe, sonder voorbehoud.

Vir diegene wat tot daardie besef kom, is daar steeds sterk Christelik-volkseie alternatiewe vir haas elke populistiese oplossing.

Verder mag ons sekerlik ook uit menslike oogpunt na Geloftedag kyk, indien ons daarmee lesse wil neem vir vandag (sonder om aan die erns van die Gelofte afbreuk te doen).

Dan sien ons dat die wa, menslik gesproke, deur ongeveer 470 man deur die drif getrek was: 470 man wat bereid was om die “eie ek” eenkant te skuif ter wille van hulle volk – ´n volk waarvan die oorgrote meerderheid nog ´n toekoms-hoop was!

Ons sien dus dat leierskap, nie leiers nie, die deurslag gee, want geen leier kan self alles vermag nie.

Persoonlike leierskap deur elke volksgenoot, op sy of haar terrein, binne sy of haar invloedsfeer, sal uiteindelik die deurslag gee: persoonlike leierskap wat beslag vind in selfdissipline, doelgerigtheid en offervaardigheid vir mede-volksgenote.

Met sodanige ingesteldheid onder volksgenote sal die geskikte leier of leiers op die onderskeie lewensterreine mettertyd opstaan, en hulle sal die doelgerigte werk van elke betrokke volksgenoot sinvol en doelmatig koördineer.

As volk moet ons vir eens en altyd ophou om ons blind te staar teen “leiers”.  Dit neig noodwendig tot leierskultusse, wat teen ons diepste geloofswaardes indruis, en open die deur vir misbruik deur misleiers, soos ons vandag weer eens ervaar.

Dit gaan uiteindelik nie oor die getallesteun nie, maar of die saak, werkwyse en onderliggende beginsels reg is – juis omdat die doel nooit die middele heilig nie!

Die huidige “burgerlike samelewing” is bloot die keersy van die ANC-SAKP se humanistiese eksperiment.  Hulle bou dalk meer verantwoordelik en meer beskaafd, maar nogtans bou hulle op dieselfde verrotte en God-ontkennende grondslag.  Daarom ontsien hulle weinig moeite om elke waarlik Christelik-volkseie instellings te ondergrawe, te vernietig of te kaap!

Want al mag ons uit menslike oogpunt soek na lesse in Geloftedag, moet ons daardie lesse toepas as Geloftevolk, op grondslag van die ware geloof, óns geloof.

Slegs wanneer ons, soos daardie 470 man, in algehele geloofsafhanklikheid voorttrek, sal ons ons volkseie bewegings weer aan’t beweeg kan bring na vryheid!