Iewers is ’n dooie rot

z-17Ek ruik rot, ’n dooie rot, want dit is net te “toevallig” dat die uittredende Amerikaanse president Barack Obama opdrag gee dat ondersoek gedoen word na beweerde Russiese manipulasie van die presidentsverkiesing, en dan is daar sommer die volgende dag in die Washington Post ’n berig dat die CIA wel gevind het dat Rusland ingemeng het.

Dit laat my dink aan al die baie twak wat Amerikaanse propagandiste gedurig oor dekades kon kwytraak – hulle reuse oorwinnings in die oorlog teen Viëtnam, maar uiteindelik moes weghardloop, en onlangse bewerings dat hulle 50 000 terroriste in Sirië afgemaai het.

Ek sal nie verbaas wees as die Amerikaanse CIA aangesê is om snaakse dinge te doen rondom die verkiesing se uitslae om sodoende te keer dat Donald Trump die land regeer nie.

As die CIA dan ’n geheime verslag het oor Russiese inmenging, dan wonder ek waarom Obama dan daarna nog ’n opdrag moes gee vir verdere ondersoeke.

Ai, die saak word ietwat lagwekkend en die linkses se siek planne om Clinton na die Wit Huis te stuur, is nou te deursigtig, veral omdat die stemtellery skielik nie meer gedoen word nie.

Was Trump dalk reg dat die Groene ’n paar sente wou opvang vir eie gebruik toe sy $7 miljoen afgebedel het van kiesers regoor die land?

Dirk Vermeulen