Geloftedag moet verdedig word

Redaksioneel3Dit het werklik ‘n droewige dag geword as Afrikaners nie meer eens hulle eie feesdae kan bywoon  nie.

Hier verwys ons bepaald na die gebeure tydens verlede week se Geloftevieringe by Bloedrivier, waar skynbaar moedswillige Zoeloes juis vir daardie dag en uur gewag het om ‘n oorlas van hulleself te maak tydens een van die Afrikaner se mees heilige herdenkingsgeleenthede.

Daarby het daar ook juis op Geloftedag nie minder nie as vier plaasaanvalle plaasgevind, waarin nog een van ons boere vermoor is.

Dit wil voorkom of die doel meerledig is: aan die een kant om ons vrees in te boesem om nie ons huise te verlaat nie, aan die ander kant om ons doelbewus te verhoed om ons kultuur uit te leef.

Voorheen het ons al gesien hoedat ons monumente beskadig word, of selfs in geheel verwyder word. Straat- en plekname word verander en ons voel vreemd in ons eie land.

Wanneer daar egter ‘n doelbewuste aanslag teen ons Gelofte kom om ons verhoed om daardie onderneming van ons voorouers na te kom, sal ons egter van voor af moet besin oor ons gelatenheid om alles te aanvaar.

Daar word dikwels na ons volk as die Geloftevolk verwys. Dit beteken dat ons daardie Gelofte, en sy opdragte om dit te herdenk as ‘n Sabbat en om aan ons kinders en opkomende geslagte oor te dra, met erns en toewyding moet bly herdenk, ongeag die prys daarvan.

Waarskynlik is daar by die vyande van ons volk en hulle versoenende bondgenote, ‘n toenemende kommer te bespeur aangesien dit el etlike jare blyk dat Geloftefeeste in groter getalle bygewoon word, veral ook deur die jonger geslag. Dit beteken dat ons volk rondom die Gelofte eensgesind bymekaarkom, en juis die Gelofte die band is wat ons van ons verskille laat vergeet.

Dit moet ten alle koste beskerm word.

Die vraag is dan hoe?

In die verlede het dit al nodig geword dat openbare byeenkomste gewapend bygewoon word.  Ons predik geen oorlog of geweld nie, maar soos ons nie kan toelaat dat ons in ons huise vermoor of verkrag word nie, ons insgelyks nie kan toelaat dat ons verwilder of geïntimideer word nie.

Weer eens, as ons op die polisie kon staatmaak, sou sake anders gewees het.

Die feit is dat ons nog nooit ‘n versoeningsbyeenkoms gaan ontwrig het nie. Ons het nie Soweto se strate ingevaar en mense aangerand of vermoor nie. Ons het nie die sogenaamde hoofman Tshwane se beeld afgebreek of aan die brand gesteek nie, of enige monument van ‘n terroris wat ons nie sou aanstaan nie, gewelddadig afgebreek nie.

Waarom moet ons altyd die slagoffers wees? Daar word gepraat van versoening, maar dit moet net van ons kant af kom, terwyl ander juis die teenoorgestelde van versoening pleeg.

Ons sal moet opstaan, sterk staan, ons streep diep, duidelik en lank trek, en dit nie net by hol woorde laat nie.

Ook ons het die reg om hartlik keelvol te word vir die situasie!