Die Afrikaanse Geldmag

z-623Dit wil lyk of die Afrikaanse Geldmag nou harder as ooit insypel en bestaande organisasies kaap vir eie gewin.

Toe Dagbreek Trust die dilemma het dat sy oprigtingsbepalings insluit dat sy fondse slegs aangewend kan word om Afrikaans te bevorder of te ondersteun, moes daar hard gedink word hoe dit gedoen gaan word.

Klein insidente het gevolg wat op die oog af onskuldige bewegings was.

Flip Buys van Solidariteit word ’n direkteur van Dagbreek Trust, en uiteindelik word dit maklik om Radio Pretoria oor te neem sonder dat die Trust op die voorgrond kom.

Met Dagbreek Trust en die Broeders se planne om die Afrikaanse media te oorheers, het die verbintenis sommer Maroela Media bygekry as bonus en word die Radio skielik Pretoria FM om die regse konnotasies af te gooi en is Kyknet as TV kanale aanvullend om elke denkbare spektrum te beheer in die Afrikaanse mediabedryf.

Dit is dus geen wonder dat Die Vryburger gereeld deur kuberkrakers belemmer word nie, want dit is saam met die verswakte koerant, Die Afrikaner die enigste mondstukke wat nog die draer is van volksnasionalisme.

Nou het die Geldmag sy vlerke verder uitgesprei en ’n ooreenkoms aangegaan met TLU SA om werwing te doen vir nuwe lede.

Dit klink bekend, want dit was ook hoe Radio Pretoria oorgeneem is.

Daarna sal die Geldmag sy pogings waarskynlik verskerp om onder die vaandel van die volksvreemde en rasgemengde vakbond sy tentakels in wurm in BCVO soos wat hy voorheen probeer doen het.

Die Geldmag is besig om die ganse Afrikaner waardestelsel in te palm en dan te vervreem – Radio Pretoria was gestig vir die Boere Afrikaners, nou praat hulle Afrikaans en speel Engelse musiek…

Ek hoop diegene wat hulle laat ompraat het om lid van die verderflike vakbond en sy filiale te word, sal wakker word en besef hulle word misbruik om hulle geld te bekom om sodoende onder die vaandel van “helpende hande” net nog meer geld te versamel vir hulle eie voordeel.

Manie Odendaal