Trump, hou by jou beloftes!

Redaksioneel3Amerika het gekies. Donald Trump sal, as niks onvoorsiens gebeur nie, die 45ste president van die Verenigde State van Amerika word.

Sy oorwinning oor die “gunsteling”, Hillary Clinton, was een van die grootstes tydens ‘n presidentsverkiesing in die afgelope vyftig jaar.

Dit laat dus die vraag ontstaan: wie se gunsteling was Hillary Clinton?

Van die begin van die veldtog af was dit duidelik dat Trump bepaalde uitgesproke en selfs radikale standpunte gehuldig het, waarvan die bestaande “establishment”, bestaande uit die bose vennootskap van politici en media, nie gehou het nie. In plaas daarvan om argumente teen Trump se argumente aan te voer, is daar ‘n persoonlike veldtog gevoer teen Trump om hom as onrealisties en selfs as ‘n politieke hanswors voor te stel. Veel politieke argumente teen dié van Trump, was daar egter nie.

Hillary Clinton is daarteenoor voorgestel as die vriendelike dame wat alle politieke wysheid in pag het, omdat haar man voorheen president was, omdat sy minister van buitelandse sake was, en omdat haar dogtertjie ook in politiek belangstel. Sy sou die aanvaarbare gematigde en redelike alternatief voorstel in die plek van die byna demoniese Trump.

Toe die klankopname van Trump die lig sien met sy gewraakte opmerking oor vroue, was dit die een tasbare aspek van Trump wat deur die media en Hillary Clinton aangegryp is om daarmee te bewys hy kan geen president wees nie. Steeds was daar geen alternatief vir sy beleidstandpunte van die begin van die veldtog nie.

Dat Trump toe net so persoonlik geraak het, was te wagte, en daardeur is die veldtog ontsier en beskryf as een van die onsmaaklikste in ‘n baie lang tyd. Die Vryburger het ook by herhaalde kere sy misnoeë uitgespreek met die veldtog waarin die kandidate meegeding het in pogings om mense van hulle te vervreem.

Nou egter word beskuldigings gemaak dat Trump gewen het op grond van leuens, en omdat hy verdeeldheid gesaai het. Vergete is die feit dat Clinton die leuenaar was oor die e-pos skandaal, en dat haar onsmaaklike hantering van die verkiesing verantwoordelik was vir ten minste vyftig persent van die verdeeldheid.

Desnieteenstaande alles, het Trump gewen, en behoorlik gewen. Overgesetsynde is Hillary Clinton verneder, en daarmee saam alle linkse mediahuise en wêreldpolitici wat uit hulle pad gegaan het om ‘n valse gewaande oorwinning vir Clinton te voorspel. Behalwe dat hulle saam met Hillary verneder is, is hulle geloofwaardigheid ook daarmee heen.

Die Amerikaanse volk het gekies, en hulle het gekies om Clinton en haar standpunte oorweldigend te verwerp. Nou behoort die wêreld die ongeloofwaardige media oorweldigend te verwerp.

Nog is het einde niet. Skaars is die Trump-oorwinning bekend, of daar word gemeld dat Kanada se grense dreig om oorstroom te word deur mense wat nou wil emigreer uit Amerika, omdat hulle glo dat die hemel en alle hemelliggame op hulle gaan val en vernietig, noudat Trump gewen het.

Die vraag is nou: wie is daardie emigrante? Die Meksikane wat Trump wil repatrieer tot agter die nuwe muur wat hy belowe het om te bou? Trump sal dit verwelkom as hulle emigreer. Hy sal dit waarskynlik ook verwelkom as hulle ‘n klomp linkse Clintoniaanse Amerikaners saamneem. Dit sal net Trump se taak makliker maak om sy planne deur te voer sonder daardie dwarstrekkende remskoene.

Tydens Trump se oorwinningstoespraak het hy ‘n besadigde en versoenende rigting ingeslaan. Dit het sy opponente die geleentheid gegee om hulle kruiperige geaardheid te toon deur te sê dat die veldtog-Trump verskil van die verkose-president-Trump. Hulle hoop nou almal dat Trump sy beleid en aanslag gaan versag noudat hy verkies is, want dan sal hy dalk nie so ‘n demoon wees as wat hulle hom voorgestel het nie.

Trump sit inderdaad in ‘n onbenydenswaardige posisie. Die Amerikaners het hulle rug gekeer op gematigdheid en politieke korrektheid en ruggraatloosheid wat lei tot niks behalwe agteruitgang en vernietiging. Dit is waarom hulle op Trump gestem het, en Trump durf nie daardie ondersteuners van hom vervreem nie. Trump is die laaste skakel vir die voortbestaan van die Amerikaanse volk. Misluk hy, sal die volgende Demokratiese kandidaat alle grense oopgooi en Amerika daarmee net so vir die wolwe gooi soos wat Angela Merkel in Duitsland en Europa gedoen het. Trump kan dit net doen as hy hou by al sy beloftes soos gemaak aan die begin van sy veldtog.

Alhoewel ons ook bepaalde bedenkinge oor Trump het, is ons wel van mening dat hy die beter een van die minder goeie kandidate was. As hy sy politieke pad reguit stap, sy volk eerste stel en sy beloftes nakom, kan hy selfs uitstyg tot een van die grootstes. Indien nie, sal hy vir ‘n moontlike tweede termyn moet regmaak om vernederend weggejaag te word deur dieselfde kiesers wat nou gestem het vir verandering.