Op die volksakker – Leierskap en deursettingsvermoe

Volksakker1Fidel Castro is die afgelope naweek oorlede op ouderdom van 90 jaar.

In lig van ons ervarings in Angola en die bande tussen Kuba en die ANC, is dit maklik om die impak van hierdie wêreldfiguur mis te kyk, of ligtelik af te maak.

Uit die staanspoor moet ons duidelik stel dat sy kommunistiese beskouings nie goedgepraat kan word nie. Dit is egter ook belangrik om raak te sien dat hy in groot mate sosialisties en pro-Kuba was toe die VSA in 1961 gepoog het om die korrupte Batista-regime te herstel.

Staan ons dan ´n objektiewe tree of wat terug, sien ons enkele sleutelwaarhede:

Castro was in eerste instansie ´n Kubaanse nasionalis, en sy eerste oorweging was deurlopend Kubaanse belange.

Hy het ´n korrupte, VSA-ondersteunde regime omver gewerp, en het uiteindelik in die Oosblok sfeer heenkome gevind slegs ná die VSA aangedring het om korrupsie bó nasionalisme te ondersteun.

Ons moet ook raaksien dat Kuba uiteindelik ´n koue-oorlog pion geword, in groot mate dieselfde onbenydenswaardige rol wat Suid-Afrika gespeel het – weliswaar aan teenoorgestelde kante van die skeidslyn.

Anders as ander rolspelers, het hy egter volgehou om Kuba se belange te bevorder, minstens tot die mate wat hy as die weg daartoe gesien het.

Al verskil ons dus radikaal van sy (uiteindelike) kommunistiese beskouings, sal dit verkeerd wees om sy invloed op die geskiedenis van die 20ste en vroeë 21ste eeue te misken, of in napraat van die hedendaags Westerse pers, hom in te kleur as bloot ´n rewolusionêre doring in die Weste se vlees.

In ´n goedgekeurde biografie het hy baie akkuraat opgemerk: “die nageslag sal my optrede beoordeel”.

Al was die dag tot dag omstandighede in Kuba nooit ideaal nie, was Kuba onder Castro aansienlik beter as onder Batista, met sy mafia en korrupte VSA regerings meelopers.

Prestasies was sekerlik nie wat gehoop was nie, veral na 1990, maar dit moet gesien word teen agtergrond van haatgedrewe VSA sanksies.

Mens wonder onwillekeurig of mense die parallelle gaan sien tussen VSA haat vir Castro en Kuba, en Victoriaanse Engeland se “Majuba must be avenged!”, wat uiteindelik ons volk soveel lyding besorg het?  (en steeds besorg)

Boweal het Castro Kuba altyd eerste gestel;  selfs die Sowjetunie het harde klippe gekou weens hul bondgenootskap met hierdie charismatiese leier.  Sogenaamde “populêre” Kubaanse opposisie was altyd deur die VSA owerheid befonds – meermale op twyfelagtige wyse.

Weer eens, verskille ten spyt, moet ons ook sy deursettingsvermoë en volharding erken – selfs teen die algehele wêreldmening in!

Hierin word hy slegs oortref deur Israel, en die Suid-Afrika van ouds.

Gemeet teen sy eweknieë, veral ter plaatse, sien ons politici in SA wat eiebelang en wêreld-eerbewys gestel het bo ons volk se voortbestaan – politici wat steeds volhou dat hulle bose werk iets goed tot stand gebring het!

Selfs gemeet teen VSA leiers – van die losbandige Kennedy, oortref deur Clinton, tot 21ste eeu terreur-skeppende regerings, kan van Castro gesê word “eerder die duiwel wat jy ken”.