Ons is weer gekaap, maar mees vasbeslote

Redaksioneel3Vanaf gisteraand tot vanoggend was Die Vryburger vir die soveelste keer van die Internet nadat kuberkrakers weer eens ons stelsel kon frustreer.

Die afgelope tyd word hierdie kapings al meer, met natuurlik die gepaardgaande frustrasies, beide vir die redaksie wat nie sy werk betyds kan afhandel nie, en ons gewaardeerde lesers, wat nie hulle Nuus wat Saakmaak betyds kan kry nie.

Dit is interessant om te let op die frekwensie van kapings van ons blad die laaste tyd.

Sedert mnr. Donlad Trump in Amerika gewen het, en daar weer wêreldwyd ‘n nasionale gevoel onder volke aan die ontstaan is, en daar druk bespiegel kan word dat die tendens van die verregsing van Amerika dalk volgende jaar kan oorspoel na Frankryk, Duitsland en Nederland, en later ook na ander lande, is daar ‘n verbete linkse aanslag om dit te keer of selfs om te keer.

Die “nuuskanaal” CNN, se verlinkse politieke onderrok hang nou so ver uit met sy deurlopende veldtog teen Donald Trump, dat dit nou nie meer ‘n nuusinstelling genoem kan word nie, maar ‘n superlinkse propagandaforum geword het.

Selfs in Suid-Afrika sal die hoofstroom media geen geleentheid laat verbygaan om Trump by te kom nie.

Dit is opmerklik om te sien hoe daar nou ‘n openlike linkse getjank is oor die keuse wat die Amerikaanse kiesers gemaak het nie. Optogte word gehou, en CNN haal huilende wit en swart vroue aan wat skielik vir hulle lewe en toekoms vrees onder Trump.

Wat het geword van demokrasie, en respektering van die wil van die kiesers? Geld dit net as linkses wen?  Interessant genoeg het die Franse Front Nasionaal nie strate toe gegaan toe hulle kandidaat nie president geword het nie. So het die Amerikaanse Republikeine ook nie ‘n week lang die TV-skerms gehaal met hulle huilery toe Obama verkies is nie. Dit lyk of die regses, konserwatiewes, nasionaliste (noem dit wat u wil), wat so as onverdraagsaam voorgehou word, juis die verdraagsames is, terwyl die linkse gepeupel blyk juis die swak verloorders en onverdraagsames te wees.

Ons sien die sabotasie van ons webwerf in dieselfde lig, want ons is ook nasionalisties volksgesind. Ons respekteer elke volk, met sy eie taal en ,kultuur op sy eie terrein. Ons is teenstanders van die sogenaamde multikulturele samelewing, want twintig jaar Suid-Afrikaanse praktyk wys dat dit nie werk nie. Inteendeel, die gedwonge integrasie skep spanning. Daarom dat ons nasionaliste wêreldwyd sal ondersteun in ons beriggewing en kommentaar.

Al wat gebeur met die herhaalde kapings van ons webblad, is dat ons meer vasbeslote is om op ons pad voort te gaan. Nee, ons is vasbeslote om nog meer uitgesproke te raak. Ons sal die linkse politieke dwalinge, leuens en bedrog bly oopkrap en aan die kaak stel. Ons sal meer as ooit opkom vir nasionalisme van volke. Ons laat ons nie intimideer nie. As ander ons dan wil etiketteer, is hulle welkom om dit te doen en aan die lippe van die linkse media soos CNN, SABC, Netwerk 24 en ander te hang. Daar is nie pille vir mense wat nie wil sien en nie wil hoor nie.

Daarom sal Die Vryburger voortgaan om, skerp maar beskaafd en indringend, sy nuus en boodskap uit te dra.

Dit bring ons by vrae wat ons kry oor waarom daar nie meer kommentare is op ons berigte, soos in die verlede nie.

Baie van die kommentare het nie voldoen aan die norme van beskaafdheid nie. Dit was beledigend en soms doodgewoon kru – wat nie pas by die styl en beleid van Die Vryburger nie. Meestal is dit dan onder skuilnaam gedoen.

Die saak teen Sunette Bridges ‘n jaar of wat gelede, het gewys wat is die verantwoordelikheid vir die eienaar van ‘n webblad, om toe te sien dat geen laster, belediging of kru rassisme geplaas word nie.  Aangesien Die Vryburger nie personeel het wat 24 uur per dag alle kommentare kan dophou en modereer nie, is besluit om eerder die kommentare, wat soms ook ons eie geloofwaardigheid aangetas het, te staak.

Tog wil ons graag hoor wat ons lesers sê. Daarvoor is ons brieweblad oop, soos dit al die jare die geval was in die media. Skryf ‘n skerp, maar beskaafde brief met deurdagte standpunte (selfs al sou dit nie Die Vryburger se standpunt onderskryf nie), en ons plaas dit graag, want dit is wat vrye meningsuiting beteken.