Boustene van ‘n Volk

gesinDie gesin as ‘n eenheid kom onder alle volke van die wêreld voor. Dit is die kleinste familie-eenheid wat aangetref word en ook die belangrikste omdat gesinne die boustene van ‘n volk is. As die boustene swak is, val die gebou inmekaar.

‘n Gesin is ‘n voortvloeisel waar hulpelose babas en jonger kinders versorging van hulle ouers ontvang. Bo en behalwe die versorgingsfunksie leer die kind sy eerste gedragsreëls teenoor ander mense en word sy (lees ook haar) opvattings en gewoontes deur sy ouers aan hom geleer. Sy gedrag is in ooreenstemming met sy bure en ander gesinne met wie hy in aanraking kom sodat almal in vrede met mekaar kan leef. Uiteraard moet hy soortgelyke lewenswaardes as sy broers en susters en ander familie openbaar wat hy van kleins af by sy ouers leer.

Sedert die vroegste tye het gesinne om gemeenskaplike redes hulself groepeer. Hulle het dieselfde waardes aangeleer, dieselfde taal gepraat, hulself saam teen vyande verdedig en dieselfde godsdienstige geloof uitgeleef. Soos die gesinne uitgebrei het, het ooms en tantes, neefs en niggies, en ander familielede ‘n volk gevorm.

Denkwyses, gewoontes en gebruike van een volk verskil in ‘n groot mate van ander wat tot gevolg het dat misverstande dikwels tussen volke ontstaan. Wat as beleefd by een volk beskou word, kan by ander volke as afkeurenswaardige gedrag beoordeel word. Dit gebeur veral waar die agtergrond, kultuur, taal en afkoms van die volke drasties verskil.

Die onderlinge verhoudinge binne die gesin verskil van volk tot volk. Daarom is die rol van die ouers van wesenlike belang. Waar kleiner kinders ‘n groot deel van die dag in die sorg van ‘n lid van ‘n ander volk geplaas word, kom hierdie verskille sterk na vore en dit verwar die kinders dikwels. Sommige kinders raak  “stout”, maar nee, hulle besef nie dat ‘n ander volk se handelinge, gebare en woorde van hulle ouers se gebruike verskil nie. As albei ouers in ‘n beroep staan, kry die kinders min tyd om met die ouers te gesels en hulle voorbeelde te volg.

Leef ons weelderig sonder om dit te besef? Is ons kinders nie meer werd as geld en aansien nie?  Geskenke en geld aan die kinders om op te maak vir ouerlike sorg, vererger die omstandighede.

Waar dit werklik nodig is, is sommige ouers genoodsaak om albei te werk sodat hulle kinders in private Afrikanerskole die noodsaaklike onderrig in taal, godsdiens en eie kultuur kan ontvang. Weg van ander volke se invloed op die kinders. Dit verg opoffering deur die ouers wat naweke en vakansiedae dan saam met hulle kinders deurbring en te sien hoe hulle groei en ontwikkel.