Balk teenoor Splinter

Ons Afrikanerleiers het nog altyd geglo dat ons regering nie ons neus in ander lande se binnelandse sake moet insteek nie en dat ons ook nie duld dat ander lande hulle met ons binnelandse aangeleenthede bemoei nie. Die balk teenoor die splinter is van toepassing. Miskien moet ons tog by uitsondering na die balk in ander lande se oë uitwys.

Die volgende aanhaling kom uit die boek Ideaal en werklikheid: rekenskap deur ‘n Afrikaner geskryf deur G van N Viljoen.

“In Noord-Amerika is die inheemse Rooihuide deur Angel-Saksiese optrede van ‘n geskatte ongeveer 3 tot 4 miljoen tot 300 000 aan die begin van hierdie eeu (dit is sedert 1900) verminder; en die oorblywendes is na armsalige reservate verstoot (vgl ook maar die lot van die Eskimo’s in Kanada en die Laplanders in Swede!). in Midde- en Suid-Amerika is die Asteke- en Inkaryke deur die Spaanse conquistadores vernietig en twee volke van respektiewelik 20 en 26 miljoen binne anderhalf eeu gereduseer tot ‘n skamele miljoen elk. In Australië en Nieu-Seeland is die Aborigines en Maori’s respektiewelik uitgedelg en deur buskruit, brandewyn en sifilis tot ‘n maklik assimileerbare minderheid gereduseer.

Dit is nou die huidige nasate van hierdie volkemoordenaars (‘genocide’ is ongelukkig eers te Neurenberg tot misdaad verklaar) wat danksy die immorele en onchristelike doeltreffendheid van hulle voorvaders se optrede, vandag met hoë moraal en Christelikheid die Afrikaner vervolg wie se Voortrekkervaders blykbaar die fout begaan het om die moraal wat vandag gepredik word, reeds twee eeue gelede toe te pas. So verkeer ons, vandag se Afrikaners, in die ironiese situasie dat ons, wat ‘n histories relatief skoon gewete het, voor die wêreld aangekla staan omdat ons voorvaders in feite versuim het om óns probleem in die verlede te likwideer. As gevolg van ons historiese ‘versuim’ is ons vandag ‘n minderheid in ons sub-kontinent, terwyl in Noord-Amerika, Midde- en Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland die oorspronklike inheemse meerderhede tot onbenullige minderhede gereduseer is. Hulle wat erfgename is van dié ‘finale oplossings’ van inheemse probleme in vorige eeue, is vandag verplig om hulle skuldlas af te wentel op die sondebok Suid-Afrika!”

“In hierdie ironiese toestand sal die Afrikaner en Suid-Afrika hulle begryplikerwys nie maklik laat tem tot ‘n valse skuldgevoel en tot ‘n blinde toegee aan steeds doller wordende eise . . . (nie).”

Die naam Suid-Afrika in die paragraaf hiervoor moet nou geskrap word omdat die boek voor 1994 geskryf is. Die uitgewer van die boek was . . . Tafelberg.

In Suid-Afrika het die Afrikaners slegs teen ander volke geveg wanneer hulle hulself moes verdedig en hul eie groot volwaardige tuislandgebiede (nie reservate nie) was groter en meer lewensvatbaar as menige ander lande ter wêreld.

Denkerbriewe