Abrahams moet gaan, sonder goue handdruk!

Redaksioneel3“Ek sal kyk of koppe moet rol”, was die gevleuelde woorde van die hoof van die NVG na dié instelling se verstommende en vernederende bollemakiesie-ommeswaai oor die vervolging van Pravin Gordhan en sy oud-kollegas.

Die redes wat Shaun Abrahams as hoof van die NVG aanvoer oor waarom die vervolging gestaak word, is nog meer belaglik as die redes wat hy aangevoer het toe besluit is om vervolging in te stel.

Maar meer nog, hy probeer nou sy hande in onskuld was oor die petalje, en dit wil voorkom of hy die skuld wil verplaas na sy een kollega, toevallig ‘n blanke. Of is dit dalk nie so toevallig nie?

Daar word beweer dat dr. Torie Pretorius, waarnemende spesiale direkteur van openbare vervolging, besluit het om te vervolg. Dus, Abrahams verplaas die skuld net mooi sywaarts. Dit is in elk absoluut ongehoord en hoogs onwaarskynlik dat die hoof van die NVG nie geken sal word as ‘n persoon met ‘n hoë profiel, soos Gordhan, vervolging in die gesig staar nie. Dan is daar bowendien nog die geheime ontmoeting van Abrahams in Luthuli-huis…

Abrahams probeer homself te laat goed lyk, deur bewerings dat hy die saak sou hersien het, na die vertoë van Gordhan se twee mede-aangeklaagdes. Gordhan het wys genoeg, geweier om vertroë te gaan rig en voor Abrahams te gaan kruip. Abrahams sê nou dat hy besef dat die mense nie opsetlik die wet oortree het nie.

Gaan dit ‘n presedent wees vir die toekoms? As ‘n landsburger voortaan per ongeluk iets nie in sy belastingopgaaf meld nie, of onopsetlik effens bo die spoedgrens ry, gaan hulle voortaan dan ook vry wees van vervolging?

In ‘n kwalik bedekte aanval op nog ‘n blanke, het Abrahams verwys na die regsmening wat Gordhan en Kie destyds gekry het van ‘n mnr. Symington. Dit sal nie verbaas as Abrahams nou, om homself te beskerm, dr. Pretorius gaan afdank, of ten minste in posvlak gaan verlaag nie, en dat hy selfs ‘n klagte teen mnr. Symington by die prokureursorde kan indien. Aanval is immers die beste manier van verdediging, veral nadat hy dit onomwonde aan joernaliste gestel het dat hy geensins van plan is om te bedank nie.

Sy optrede herinner sterk aan dié van Hlaudi Motsoeneng van die SABC, wat net so magshonger aan sy pos klou terwyl die onbekwaamheid by wyse van spreke van hom afstraal.

Dalk is dit nou tyd vir die regsberoep met sin vir eerbaarheid en juridiese regverdigheid, om strate toe te gaan en te eis dat Abrahams sy tassies moet pak – sonder ‘n goue handdruk!

In plaas daarvan dat Abrahams moet kyk na wie se koppe moet rol, moet iemand anders ‘n bietjie kyk of sy kop nie die een is wat moet rol nie!