Treffend Afrikaans – Kunsmatige veroudering

Afrikaans is skerpDeur Taalstryder

Ten spyte daarvan dat Afrikaans ‘n jong taal is, word verskeie woorde al as verouderd beskou en tans weinig deur beriggewers gebruik. Ek verwys na woorde soos pulwer, erlang, klokkenis, kattebak, weduvrou, geskaf, lor en komhalertjie om net enkeles te noem. Dit is kunsmatig om onnodige nuwe (vreemde) woorde by te bring. Al waar die Afrikaanse woordeskat uitgebrei behoort te word, is wanneer daar nuwe terreine ontwikkel het soos die rekenaarwese. Selfs dan moet na ‘n beskrywende woord gesoek word in plaas daarvan om byvoorbeeld sommer net van komper of SMS of CD te praat omdat dit op geen manier by die Afrikaanse woordeskat inpas nie.

Daar is slegs regverdiging vir die oorneem van Romaanse woorde of woorde ontleen uit ander tale as daar ‘n leemte in Afrikaans bestaan wat nie gevul kan word nie. Dit is as ons nie self eie beskrywende woorde of benaminge kan skep nie. Maklike boedeloorgee moet dit egter nie wees nie. Alle vreemde woorde is nie ongewens nie. As daar net een ander gelykbetekende Afrikaanse woord van Dietse afkoms bestaan, maak afwisseling die lewe interessant, anders is dit regtig eng. Tog is versigtigheid die moeder van wysheid. Selfs waar net een woord van Dietse afkoms in Afrikaans bestaan, is ‘n tweede vreemde woord dikwels onaanvaarbaar. Dit kan Afrikaans in ‘n tweederangse taal omskep soos waar slegs die vreemde tsoenami deurgaans gebruik word in plaas van seevloed.

Beriggewers heg nie veel gewig aan taalreëls nie. So ‘n uitgangspunt beïnvloed taalgebruikers wat al hoe meer van reëls afwyk. Hulle begin die houding inneem dat fyn taalgebruik nie so belangrik is nie; juis wat die taal laat agteruit gaan. Mag elke speler van sportreëls afwyk en die skeidsregter dit toelaat?. Taal is ‘n wetenskap en moet aan eenvormige beginsels voldoen.

Ons het al pragtig beskrywende woorde geskep wat ‘n Dietse inslag het. Woorde soos duikweg, moltrein, tuinslang, rolbal en kegelbal is mooi beskrywend. Viertrekvoertuig is duidelik beskrywend eerder as die oorneem van vier-by-vier. Is ons taalgebruikers en taalkundiges besig om ons oorspronklikheid en taalvaardigheid te verloor? Kyk na enkele van ons duisende mooi uitdrukkings.

 

Die wind waai van die garsland af  =  Dit is ‘n kou wind wat waai.

Iemand het in die kombuis grootgeword  =  Hy het baie lelike maniere.

Fyn uitgepiets wees  =  Baie deftig aangetrek wees.

Iemand ‘n stang in die bek sit  =  Iemand beteuel.

So waar as padda manel dra  =  Baie seker.

Krom paaie loop  =  Agteraf en oneerlik te werk gaan.