Studenteboewery dui op dissipline probleem

Redaksioneel4Die boewery deur studente aan feitlik alle universiteite, dui op ‘n probleem met dissipline, wat wyer strek as net universiteite.

Miljoene rande se eiendom is al op kampusse landwyd vernietig. Foto’s en televisiebeelde wys onteenseglik dat dit oorwegend swart studente is wat hulle aan hierdie boewery en barbarisme skuldig maak.

In die jare sewentig het soortgelyke optrede by skole begin, onder sie slagspreuk “liberation before education”. Toe was die kamtige rede dat leerlinge nie teen hulle sin in Afrikaans onderrig wil ontvang nie.

Voordat die “fees must fall”-veldtog op dreef gekom het, het studente geprotesteer vir transformasie. Universiteite was na hulle sin te veel tradisionele instellings, met akademiese waardes en waar Afrikaans die onderrigtaal was.

Feitlik voor die voet het universiteite geswig, dubbelmedium onderrig ingestel, wat uiteindelik daarop uitgeloop het dat Afrikaans as onderrigtaal feitlik nie meer bestaan nie, op enkele uitsonderings na.

Universiteite kon nog nie behoorlik hulle wonde lek na die vorige rondte betogings, vandalisme en onredelike eise nie, of die volgende is al daar. Gratis klasgelde is nou nog die tema, maar plek-plek word al gehoor hoedat die lysie eise van die studente al meer word.

Helaas het die universiteite tot ‘n groot mate hulleself hiervoor te blameer. Toe hulle toegegee het op die eerste eis, het hulle die deur vir meer eise oopgemaak, en die radikale studente en hulle helpers, het dit deeglik besef en behoorlik gebruik gemaak daarvan.

As universiteite voet by stuk gehou het die eerste keer, en studente op hulle plek gesit het, sou die damwal nooit gebreek het nie. Maar dit is die prys van politieke gedienstigheid en slaafse knievalle voor die sosialistiese bewindhebbers.

Hulle het nou die dissipline wat hulle sou moes kon handhaaf, verloor, met die gevolg dat die universiteite slagvelde geword het waar die stert nou die hond rondswaai.

Tradisioneel was dit immers so dat as ‘n student nie vir klas opdaag nie, hy afwesig gemerk word, en na ‘n sekere aantal afwesighede, verhoed word om eksamen te skryf. Vir alle praktiese doeleindes was ‘n student dan geen student meer nie. Dit sou nou ook die oplossing kon wees, as owerhede ruggraat sou gehad het. Dan was dit tog maklik: net wettige studente word op kampus toegelaat, en die polisie moet sorg dat die-studente buite gehou word.

Helaas sal dit vir hulle geen opsie wees nie. Die klasse sal so leeg wees, dat die studente wat wel nog daar is, dan daarop sou kon aandring dat hulle weer in Afrikaans onderrig sou wou word, want waarskynlik sal dit hoofsaaklik Afrikanerstudente wees wat dan opdaag. En o wee..

Die studenteboewery wys nie net op ‘n gebrek aan dissipline op universiteite nie. Selfs die polisie kan nie meer dissipline op skares afdwing nie. Daar is nie dissipline in die Tshwane metroraad vergaderings nie. Daar is nie dissipline in die parlement nie. Daar is nie finansiële dissipline by staatsinstellings nie.

Die enigste werklik wetsgehoorsame burgers, is ongeveer vyf miljoen, hoofsaaklik blankes, wat hulle belastings betaal, en daarmee die dissiplinelose sirkus finansier, ten koste van hulleself.

Moet ons nie ook maar een of ander tyd ons stemme dik maak en ons streep trek met die eis dat ons nie langer deel van so ‘n gemors wil wees nie? Of het ons volk ook al ruggraatloos geword om alles maar lamsakkig te aanvaar?