Deursigtigheid?

Redaksioneel3Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak allerhande mooi praatjies van menseregte, beskerming van demokrasie, sogenaamde artikel 9-instellings, waaronder die Openbare Beskermer tel, en deursigtigheid.

Die reg word as ‘n soort supergesag daargestel, want die Grondwetlike Hof moet enige tersaaklike saak aan daardie grondwet toets.

Dit het al daartoe gelei dat heelwat sake by daardie hof aangehoor is, en dat selfs die regering al uitsprake daar gekry het waarvan hulle nie noodwendig hou nie.

Aan die ander kant word die regters van daardie hof, juis deur die regering aangestel. Menigeen kan nog die gebeure onthou toe die huidige hoofregter aangestel is – ‘n betreklik onbekende jong regtertjie. Alhoewel hy later ‘n uitspraak direk teen Zuma gelewer het, is hy aanvanklik as ‘n Zuma-handperd gesien, wat hy waarskynlik ook was, totdat hy gesien het hoe die wind waai en sy seile daarvolgens verstel het.

Alhoewel dit seker mooi klink, dat die Grondwetlike Hof die bepalings van die grondwet in stand moet hou, en selfs die regering daaroor kan aanspreek, is dit ook verlammend. Hoeveel keer is sake nie daarheen verwys nie, en tyd gaan verlore, om van die koste van sodanige sake nie eens te praat nie.

Een saak wat daardie hof nog nie tot bevrediging kon oplos nie, is die feit van deursigtigheid. As Zuma een mooi oggend opstaan en ‘n nuwe minister van finansies aanstel, hoef hy geen verduideliking daarvoor te gee nie. Maar as gewone sterflinge ‘n huis- of plaasarbeider afdank, moet alles “deursigtig” wees: die redes vir afdanking moet baie duidelik wees, en die prosedures ook. Hierdie bepaling geld blykbaar nie vir die staatshoof nie.

Die sogenaamde artikel 9-instellings moes ook al by die Grondwetlike Hof ‘n draai gaan maak. Uiteindelik het daardie hof bepaal dat daardie instellings, en in besonder die Openbare Beskermer, nie net daar is om mooi te lyk nie, maar dat daar ernstig na hulle ondersoeke, verslae en aanbevelings gekyk moet word.

Maar die oomblik dat dit wel gebeur, is dieselfde regstelsel weer handig om dit juis teë te gaan.  Die verwikkelinge die afgelope week het dit getoon. Deur ‘n eenvoudige dringende aansoek te liasseer by die hof, kan die hele proses van deursigtigheid verydel word, selfs al sou die hof dit later nie as dringend beskou nie, of as die saak selfs teruggetrek sou word.

Die Openbare Beskermer kon dus nie haar verslag oor haar ondersoek na die staatskaping deur die Guptas openbaar maak nie. Weg is die deursigtigheid. Sy is nou nie meer OB nie, en haar opvolger sal na alle waarskynlikheid daardie verslag oorneem, en iewers in ‘n laai of ‘n snippermandjie laat beland.

Met Zuma en Van Rooyen se juridiese eierdanse, word daar ‘n bespotting van deursigtigheid gemaak.

Al waaroor die publiek nou wonder, is hoe erg is die bewyse teen Zuma dat hy ten alle koste wil verhoed dat dit openbaar gemaak moet word?

Uiteindelik wys dit net, dat die stelsel, wat soms so mooi lyk op papier, in sy wese verrot is, en in totale teenstelling is met wat die norm is in hoogs beskaafde gemeenskappe. Dit is waarom die Afrikaner al hoe meer vervreem en ontuis voel in so ‘n stelsel, en hom begin onttrek.