Ons is moeg uitgebuit

Redaksioneel4Unisa en Momentum het ‘n verslag die lig laat sien oor die stand van die geldelike posisie van mense in die middelklas en hoer inkomstegroepe.

Daarvolgens het dit geblyk dat die persentasie huishoudings wat as welaf beskou kon word, gedaal het van 27% in 2014, tot 23% in 2015. Onstabiele huishoudings het persentasiegewys ook toegeneem, en oor die algemeen raak huishoudings meer in die knyp.

Alhoewel die ekonomie inderdaad ‘n invloed het op huishoudings, is hulle, volgens die ondersoek, dikwels self daarvoor verantwoordelik.

Tog word in die ondersoek wel erken dat die stand van die ekonomie groot impak op huishoudings het.

Helaas is dit so dat Jan en San Publiek individueel nie veel aan die stand van die ekonomie kan doen nie. Verbruikers kan wel minder ligte laat brand en elektriese toerusting afskakel, maar in die groter prentjie word dit weer vernietig deur openbare instellings wat kantoor- en straatligte dag en nag laat brand.

Aan die ander kant, betaal verbruikers gedwee hulle dienstegelde, vir dienste wat dikwels nie gelewer word nie. Vullisverwyderaars staak, en mense moet self sien om reg te kom met hulle afval, sonder dat die stadsraad hulle vermindering in tariewe gee nie. Die polisie (dus die Staat) doen nie sy werk nie, en mense word gedwing om private sekuriteitsmaatskappye te gebruik, waarop die Staat natuurlik vinnig sy 14% BTW verhaal. Weer eens is daar geen belastingtoegewings aan die belastingbetaler nie.

Hierdie lys van voorbeelde kan nog langer gemaak word, met vergelykings in die onderwys, gesondheidswese, welsyn, onderhoud van paaie op veral die platteland en so meer.

Die punt is egter dat dit geen wonder is nie dat ‘n ondersoek uiteindelik bevind dat huishoudings slegter daaraan toe raak.  Hulle het nie veel keuse as om maar self voorsiening vir bepaalde dienste te maak nie, aangesien hulle niks daaruit kry van hulle belastinggeld nie.

Om bloot die gemiddelde huishouding daarvan te beskuldig, soos die gemelde ondersoek in wese inderdaad gedoen het, dat hulle nie genoeg spaar nie, is ietwat onredelik. Die gemiddelde huishouding is elke maand net te bly as hy sy begroting kan laat klop en nie in skuld verval nie. Van die vermoë om te spaar is daar byna geen sprake meer nie.

Dit is dus nie noodwendig iets waaraan die verbruiker iets kan doen nie. Die ekonomiese omgewing word vir hom gedikteer deur politici en hulle mislukkende beleid.

Die vraag ontstaan nou of dit maar so ewe gelate aanvaar moet word, en dat ons toelaat om te verarm, as gevolg van korrupte en niksdoenende politici wat net hulle eie sakke vul en na hulle eie behoeftes kyk?

Die antwoord moet dalk gesoek word in die Joodse gemeenskap, wat ‘n hegter ekonomiese netwerk onder hulleself gekweek het. Die Indiërgemeenskap doen dieselfde. Hulle beoefen ruilhandel, waaroor die Staat geen beheer kan uitoefen nie. Gevolglik spaar hulle daarmee reeds die BTW aan die staat, en dit maak hulle 14 persent ryker. Natuurlik is dit volgens die letter van die wet onwettig, maar om korrup te wees, om gelde te verhaal vir dienste wat nie gelewer word nie, is tog in wese diefstal en ook onwettig.

Afrikaners het die koopkrag en is sterk in die ekonomie. Hulle behoort eweneens hulle eie ekonomie binne die groter ekonomie te skep, en vir hulleself ‘n soort ekonomiese kussing te skep wat darem ‘n sagter landing kan bewerkstellig wanneer die bewind die ekonomie totaal vernietig het.

Daar is gelukkig reeds heelwat instellings wat hulle daarmee besig hou, soos die drie volksbanke op Orania, Kleinfontein en Oranjekas.  Daar is sakekamers op talle plekke waar sakelui handevat. Hulle behoort ondersteun te word, en hulle behoort ook ons volksmense tegemoet te kom. Daar word gewerk aan eie versekeringshuise, mediese ondersteuningsdienste en nog meer. Daardie instansies behoort ondersteun te word, eerder as instansies wat hoë diensfooie hef, om daarmee ‘n sukkelende Bafana-Bafanaspan of ewe sukkelende Springbokke te borg. Ons is moeg uitgebuit!