Ai, die Vakbond se EF-EM

brieweVolksgenote oor die hele Transvaal het saamgespan en hulle ondersteuning gegee toe Radio Pretoria opgerig is, en vir bykans tien jaar het die direksie deur volgehoue verset daarin geslaag om te bly uitsaai sonder ’n lisensie wat die regime wederregtelik van hulle weerhou het.

Toe slaag die bestuur van weleer om die stryd in die Appèlhof te wen.

Toe kom die Vakbond en kaap die Radio vir hulle eie gewin, en vandag is die Volksradio van weleer, ’n volksvreemde instelling wat Amerikaanse musiek bevorder, en die volk gruwelik mislei.

Hulle het mos sulke advertensies waarin beweer word dat hulle Afrikaans is.

Maar as hulle die advertensie uitsaai, sorg hulle dat dit opgevolg word met Engelse musiek.

Hulle sogenaamde klank-koerant maak seker dat hulle met die nuus ’n onverstaanbare berig het van ’n anderskleurige wat die Engels verwring, net soos wat die sogenaamde Afrikaanse omroepers die Afrikaanse taal verwurg, wat my laat besef het dat hulle hoegenaamd nie omroepers is nie – maar eerder net ’’n spul uitsaaiers…

As jy saans wil luister moet jy jou staal teen die morbiede programme van siektes en wetsoortredings wat wissel van egskeidings tot wie weet wat alles, en word deur presies dieselfde aanbieder opgestel.

Miskien het die aanbieder ’n reg om saans die paar luisteraars wat dalk nog oorgebly het, te vermaak met Vrydae se hoed-praatjies wat almal lankal elders te lees gekry het….

Dan volg ’n kort musiekprogram, wat ek beleef as van die swakste aanbiedinge wat oor die eter gehoor kan word – dis elke Maandag dieselfde retoriek, Dinsdag aande is ’n spieël uitsending van elke vorige Dinsdagaand se program, en Donderdagaande, nadat ’n klomp praatjiesmakers hulle slimmighede kwyt geraak het, word die tien laagtepunte in Afrikaanse musiek gespeel – en word dieselfde musieksnitte elke week herhaal en herhaal en herhaal – dan hoor jy elke week iets van gif, of iets anders wat jou dwing om eerder af te skakel…

Die herhaling van dieselfde snit van die CD laat my dink die CD het net die een snit, of die ander is van ’n nog swakke gehalte sodat die Vakbond self nie kans sien om dit uit te saai nie…

Om na so ’n stasie te bly luister, verg ongekende deursettingsvermoë wat waarskynlik nie bestaan nie, want dit is ’n patetiese klomp onbekwame uitsaaiers wat elke regdenkende moeg en moedeloos maak., terwyl radio uitsendings ook bedoel is om ontspanning te bied as die skemer daal….

Nouja, dis hoe die Vakbond se EF-EM in stereo is.

Andries Lategan