Vir die dames – Kalbassies

Marakka / Maranka / Marankie of soms ook genoem kalbassie

 

Ons ouer geslag ken hierdie plante en sy “tipe” pampoentjies wat hy dra baie goed. Sommige mense noem dit ‘n pampoentjie maar dis familie van die kalbassies wat in die familie Cucurbitaceae is. Baie van ons mense sal dit ken as ‘n “Calabash”. Marakka’s word gebruik om te eet soos pampoen gaargemaak en “Calabash” word oor die algemeen meer gebruik om ornamente van te maak wanneer hul ryp en droog is. Dit is inheems van Suid Afrika. Sommige mense noem die marakka ook ‘n patatpampoen, maar dit lyk of smaak glad nie soos patats nie.

 

Marakka plante rank redelik dig, veral teen ‘n draadheining. Die blare is groot en hartvormig en sag. Die Marakka vrug se kleur wissel van liggroen tot donkergroen en sommige het ook roomkleurige strepies op die skil. Die skil is nie baie dik nie maar grof en het knoppies regoor die hele vrug. Die vrug (marakka) laat ons ook dink aan die sjoe-sjoe pampoentjies.  Dit kom in verskeie vorms voor. Marakka plante dra baie goed en oorvloedig. Die vrug hang aan ‘n stingeltjie en dis duidelik sienbaar om te pluk. 

 

Marakka’s word soos pampoen gaargemaak op verskeie maniere. Dit moet met baie min water (of glad nie water nie) gaargemaak word, want dit maak baie vloeistof indien u dit in ‘n kastrol op die stoof gaan kook. Die beste is om botter en suiker in die kastrol te smelt en dan die geskilde marakka skywe daarin pak en sit die deksel op en stowe op lae hitte. Dit word gou gaar en het ‘n besondere smaak. Dit kook ook baie weg, so maak maar die hele vrug gaar. Die vlees is roomkleurig tot liggroen en sag en waterig. Sommige kokke bak dit eenvoudig saam met ander pampoen in die oond. Dis op enige manier nogal heerlik.

 

Hierdie plante word aangetref in die laeveld en hoëveld van Transvaal. Die plant self kan ligte ryp weerstaan maar is genieg om dood te gaan in die winter. Dit plant voort met saad. Die vrugte is vol pitte (soos lemoenpampoentjie of selfs bietjie groter roomkleurige pitte). Hulle ontkiem sommer ook gou en voor jy jou oë uitvee, pluk jy ‘n marakka om gaar te maak en uit te toets. Marakkavrugte se energiewaarde is baie min. Dit bevat baie verskillende vitamienes en minerale en het veral ‘n redelike kalsium en magnesium inhoud.

 

Ons het dit probeer vries, maar dit was nie baie suksesvol nie. Dit is baie waterig wanneer dit dan gaargemaak word en het die smaak verloor. Wanneer marakka’s gepluk word, kan dit lank in ‘n koel vertrek of yskas bewaar word. Dis natuurlik heerlik hoe gouer dit gaargemaak kan word, want dit skil dan maklik af. Van ons mense was dit goed af en sny dit oop, haal pitte uit, smeer botter oor en bak met bruinsuiker in die oond. Dit word ongelooflik gou sag en dan is dit eers lekker!

 

Geniet u tuin tot volgende keer