Langste brug ter wêreld – van glas?

glasbrug van boZ 4(5)In Sjina is die langste voetbrug in die wêreld gebou, maar die konstruksie is van glas, wat mense met hoogtevrees ietwat onkant vang.

Die brug is geopen vir die publiek, maar mense met erge hoogtevrees kan hulleself geld spaar deur nie die brug te besoek wat op plekke tot 300 meter bokant moederaarde hang nie.

Die grasbrug wat 430 meter lank is, hang tussen twee bergtoppe in ’n natuurreservaat in die Hunan provinsie.

Die ses meter breë brug is ontwerp deur die argitek Haim Doran, en bestaan uit 99 glasplate wat sowat 800 mense gelyktydig kan dra.

Benewens die vreemde gevoel om oor die brug te stap, is daar ook geleentheid vir die waaghalsige besoekers om ’n reksprong (bungee) te neem.

Die besoekers word egter beperk tot 8 000 per dag, en met ’n toelating van sowat 18 euro per persoon, behoort die brug mettertyd vir sy vervaardiging en oprigting te betaal.

Om mense te oortuig van die brug se veiligheid, is verslaggewers van koerante genooi om die brug te besoek, en elkeen is met ’n hamer toegerus wat hulle kon gebruik om die glaspanele mee te kap.

Tydens die opening van die brug is ’n motor met vier insittendes oor na die ander kant om mense te oortuig dat alles wel veilig is.