Demokrasie?

Redaksioneel4Telkens as verkiesingstye naderkom, word die argument gehoor dat mense nie mag kla oor die toestande in die land as jy nie gaan stem het nie.

Op sigself is dit natuurlik ‘n prulargument. As daar geen party is wat aan jou persoonlike behoeftes of beginsels voldoen nie, kan niemand jou dwing om jou kosbare stem op iemand of iets anders te gaan uitbring nie, ongeag aan watter kant van die politieke spektrum jy jou bevind.

Maar as mens een maal in vyf jaar gaan stem, sou daardie argument dus beteken dat jy die res van die vyf jaar nie meer mag kla nie as jou elektrisiteit onwettig afgeskakel word; as die SABC mediasensuur toepas; as die stadsraad se vullisverwyderaars staak en jou rommel daar laat staan; as straatname verander word; as monumente verwoes word; as riool in riviere beland; as grondonteiening plaasvind; as onderwysstandaarde val, en so kan ons die lys langer maak.

Nou, na die plaaslike regeringsverkiesing, is ‘n totaal nuwe situasie aan die ontstaan.  Mense het vir ‘n bepaalde politieke party gestem om ‘n bepaalde rede.  Dit impliseer tog dat hulle ook om ‘n bepaalde rede nie vir ‘n ander politieke party gestem het nie.

Wat nou egter gebeur, is dat die politieke party waarvoor ‘n kiesers dalk wel gestem het, nou die kieser se stem gaan smous vir die hoogste moontlike koalisieprys.

Veral blanke, en in besonder Afrikanerkiesers, wat gaan stem het, het verkies om nie vir die rassistiese en uitgesproke anti-blanke en haatdraende EFF van Julius Malema te stem nie. Maar as gevolg van opportunistiese koalisiepolitiek, gebeur dit nou dat so ‘n kieser se stem indirek wel by Malema se trawante uitkom, net “om die ANC uit te hou”.

Dit is tog onsinnig om die duiwel met sy tweelingbroer te wil vervang, want dit is wat dié twee partye in die Suid-Afrikaanse politiek verteenwoordig, veral waar dit gaan oor die belange van minderhede, maar in besonder in hulle standpunt teenoor die Afrikaner.

Om ‘n koalisie met die ANC of die EFF aan te gaan, kan vergelyk word met ‘n verbond met die duiwel.

Enige party wat sy kiesers se stem en magsbasis gebruik tot opportunistiese koalisies, waardeur sekere raadslede weer bevoordeel gaan word in terme van inkomste uit die soustrein, is besig met politieke misdadigheid.

Waarom was daardie party nie vooraf bereid om vir sy potensiële kiesers te sê dat hy bereid gaan wees om hulle stemme te smous vir ‘n koalisie met die ANC of die EFF nie? Waarskynlik sou die uitslag dan heel anders daar uitgesien het, en sou ‘n wegblystem dalk selfs nog groter geword het. Die grootste klomp politici boesem eenvoudig nie meer vertroue in nie.