Vier dalk deel van IS terreursel in SA

Daar is volgens die Valke ‘n verband tussen die tweelingbroers en ‘n broer en sy suster wat oor die naweek aangekeer is omdat hulle al vier vermoedelik ondersteuners van die terreurgroep, die Islamitiese Staat (IS), is.

Die tweelingbroers, Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie (24 jaar), het in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklagte van beweerde bande met IS en planne om ‘n Amerikaanse diplomatieke missie en Joodse instellings in Suid-Afrika op te blaas.

Die tweeling, staan tereg op terrorisme verwante aanklagte nadat hulle oor die naweek in Newclare, Johannesburg in hegtenis geneem is.

Volgens die klagstaat het hulle die terrorisme dade beplan om ontploffings by ‘n Amerikaanse diplomatieke missie en Joodse instellings in Suid-Afrika te veroorsaak om sodoende lewens in gevaar te stel, die dood en/of ernstige liggaamlike leed en verwoesting te veroorsaak.

Voorts is in die klagstaat gemeld dat sodanige sameswering en aanstigting bedoel was om emosies op te wek en te versprei omtrent terreur, angs en paniek in die burgerlike samelewing van Suid-Afrika en in besonder die Amerikaanse en Joodse deel daarvan en om die regering van Amerika te intimideer.

Die beweerde sameswering om terreurdade te pleeg, het glo verlede jaar en vanjaar plaasgevind.

Volgens die klagstaat het die twee broers ook in April verlede jaar probeer om die land te verlaat om na Sirië te gaan om by IS aan te sluit.

Die saak teen die twee bebaarde Thulsie-broers is tot 19 Julie uitgestel en hulle sal intussen in aanhouding bly.

Die Thulsies het destyds probeer om saam met die twee ander beskuldigdes die land te verlaat om na Sirië te gaan. Die twee, ‘n broer en sy suster, is oor die naweek in Azaadville, Krugerdorp aangekeer.

Ibrahim Mohammed het op aanklag van die oortreding van die Wet op Plofstowwe in die landdroshof in Kagiso verskyn. Sy suster, Fatima Mohammed Patel, het kort daarna verskyn op aanklag van die onwettige besit van ammunisie.

Daar bestaan egter ‘n sterk moontlikheid dat die staat Maandag wanneer hulle weer moet verskyn, nog aanklagte teen hulle sal byvoeg.

Volgens die Valke is die verdagtes ‘n geruime tyd lank dopgehou en meen hulle is dalk deel van ‘n terreursel in Suid-Afrika.