Veldwagter geskors oor ietermagô skop

SANParke het bevestig dat ‘n veldwagter van die Punda Maria-kamp in die Krugerwildtuin, wat op videomateriaal vasgevang is terwyl hy ‘n ietermagô skop, geskors is terwyl ‘n ondersoek daaroor aan die gang is.

‘n Ondersoek oor die voorval word gedoen om sodoende die nodige dissiplinêre stappe te neem en die publiek sal op hoogte gehou word van die verwikkelinge, het SANParke se waarnemende hoof van kommunikasie, William Mabasa, gesê.

Die betrokke video, wat toon hoe die veldwagter ‘n ietermagô ‘n harde skop gee om sodoende ‘n gas tydens ‘n nagrit ‘n goeie kameraskoot daarvan te laat kry, het groot verontwaardiging op sosiale media ontlok nadat dit op YouTube geplaas is.

Die video wys hoe die veldwagter uit ‘n voertuig klim tydens ‘n nagrit saam met besoekers aan die Krugerwildtuin en die ietermagô bydam met ‘n skop, waarna die dier hom onmiddellik opkrul om homself te beskerm. Die skoppery vir ‘n goeie kameraskoot het plaasgevind ondanks iemand wat duidelik in die agtergrond benoud in Engels sê: "no, no, no….".

Die YouTube-gebruiker, Jason Janse van Vuuren, het in die beskrywing by die video geskryf dat die veldwagter, Veli, die bedreigde en pragtige dier geskop het sodat hy ‘n foto daarvan kon neem. Hy het sy skok en hartseer oor die voorval uitgespreek.

Kommentare op Facebook omtrent die voorval het geëis dat teen die veldwagter opgetree moet word, terwyl ander meer opleiding en strenger keuring vir veldwagters bepleit het. Ander het hul skok uitgespreek en bygevoeg dit is verblydend dat dit gerapporteer is en ondersoek kan word.

Een van hulle, Shelley Horton, skryf: “dit is een van die aakligste dinge wat ek in ‘n lang ruk gesien het… ek hoop regtig toepaslike aksie sal geneem word. Kan nie sulke veldwagter in die wildtuin duld nie. Ek gaan al 40 jaar wildtuin toe en het nog nooit die voorreg gehad om ‘n ietermagô te sien nie.”

Wêreldwyd word meer ietermagôs gestroop as renosters. Bendes en sindikate stroop die diere vir medisyne en hul vleis. Na raming is meer as 1 miljoen ietermagôs die afgelope dekade vir hulle skubbe en vleis gestroop.

Foto – ‘n Ietermagô (foto – ter illustrasie)