Treffend Afrikaans – die stryd van kombuis- tot modetaal

Aan die einde van die agtiende eeu, begin negentiende eeu was mense in die algemeen minder gegoed as vandag en moes hulle groter opofferinge maak om te spaar en skraps te leef sodat hulle daardie geld kon gebruik om vir hulle kinders se onderrig in private Afrikaanse skole te betaal. Hoe groter die leerlinggetalle, hoe goedkoper kon die onderwys aangebied word. Ons mooi moedertaal is, net soos ons geloof, mos nie met geld te koop nie.

 

As moedertaalonderrig in die skoolwese verlam word, word die volk met ondergang bedreig, want op skool word die seuns en dogters gevorm wat die volk moet voorgaan. Daardie jare is Afrikaans afgekraak deur dit uit te maak as ‘n kombuistaal, geskik vir halwe barbare, en Die Afrikaanse Patriot vir ‘n ou blaadjie wat net goed is vir halfgeleerde mense.

 

Die eerste spelreëls vir Afrikaans is in die tweedehelfte van die negentiende eeu vasgelê:

 

(a)  As algemene reël geld: Ons skryf soos ons praat.

      (Dit het beteken suiwer Afrikaans praat, dog letters wat nie uitgespreek word nie, word weggelaat).

(b)  Z word vervang deur s, en sch deur sk.

(c)  ‘n Klinker in ‘n oop lettergreep word nooit verdubbel nie, byvoorbeeld ja, jare.

(d)  Die onderskeid tussen die vier e-klanke word as volg aangedui; né, sê of vêr, en gegé.

(e)  Oral waar ‘n klank weggeval het, moet dit aangedui word deur byvoorbeeld da’e, o’e.

 

Die ganse Afrikanervolk het ‘n landswye beweging begin om Afrikaans tot sy reg te laat kom. Hulle volks- en taalgevoel het ontwaak. Belange wat hulle taal benadeel het, het hulle op vergaderings bespreek en by verenigings aangesluit wat Afrikaans bevorder het. Daar is op ‘n beskaafde manier aangedring op regte om Afrikaans erken te kry by skole, kerke, handelsverenigings, staatsdepartemente, plaaslike regerings, banke, landbouvergaderings met die regering, en by algemene winkels. Afrikaanse boeke is doelbewus gekoop en gelees. Hierdie belangstelling is kenmerkend van ‘n volk wat diepe insig verkry het. Binne enkele jare kon hulle die vrugte pluk.

 

‘n Vereniging is gestig met die hoofdoel om die gebruik van suiwer Afrikaans as spreek- sowel as skryf- en leestaal aan te moedig, en om groter liefde en waardering by ons volk daarvoor op te wek. Twee grondreëls moes wees om so min as moontlik van vereenvoudigde spelling af te wyk en volgens beskaafde Afrikaanse uitspraak te spel. ‘n Taal moet so vry as moontlik van vreemde woorde en idiome gebruik word ten einde verbastering en uiteindelike verdwyning te bekamp.

 

Om eenvormigheid te verseker is op ‘n Standaard Afrikaans besluit. Dit beteken dieselfde spelwyse, dieselfde betekenis van begrippe en dieselde manier van uitspreek sodat daar geen verwarring kon ontstaan nie. Alle Afrikaanssprekendes van die Kaap af tot in Transvaal is hierin geken en die samewerking het spontaan plaasgevind. Afrikaans is al op alle gebiede as ‘n volwaardige taal gevestig en daarom hoef geen bewyse of oortuiging voorgelê te word nie. By baie ontwikkelde en vooraanstaande Afrikaners het dit mode geraak om Afrikaans te praat; dit was ‘n teken van belangrikheid.

 

Taalstryder