SA volg in Zimbabwe se spore

Die huidige inploffing van Zimbabwe laat die herinnering ver teruggaan.

In die meer ‘onlangse’ geskiedenis sowat 38 tot 36 jaar gelede begin die “When wes” (“When we where in Rhodesia”) se uittog ontvou.

Daaragter lê natuurlik ‘n veel langer verhaal wat gevolg kan word totdat die Ian Smith-regering uiteindelik sou swig onder die druk en die knie gebuig het voor die aandrang op ‘n meerderheidsregering.

Baie het hiertoe bygedra.  Rolspelers soos onder andere Harold Wilson, Henry Kissinger, John Vorster en Pik Botha het gesorg vir die oorgawe. Die interaksie tussen politieke verraad en die bosoorlog kan, net soos in Suid-Afrika, nie in Rhodesië van mekaar geskei word nie.

Uiteindelik sou Robert Mugabe en sy ZANU-PF reeds vanaf 1980 begin klou aan die mag in Rhodesië soos ‘n tipiese Afrika-diktator.

Die tweede uittog (die eerste uittog was in 1978) van Rhodesiërs het toe oor die grens begin. Vanjaar is dit 36 gelede, en die land, bekend as Zimbabwe, het nou aldus mediaberigte finaal ineengestort.

In Suid-Afrika is die ANC, SAKP, Cosatu-alliansie, al 22 jaar van die 36 jaar besig om die land dieselfde kreeftegang te laat gaan weens die De Klerk-oorgawe.

Desondanks was Suid-Afrika nog altyd deur die jare ‘n heenkome vir eers die “When wes” en toe derduisende swart Zimbabwiërs.

Hongersnood en werkloosheid is van die grootste dryfvere wat hulle oor die grens na Suid-Afrika laat stroom.

Weens die opstande die afgelope paar dae in Zimbabwe word gevrees dat hierdie toestroming van sogenaamde vlugtelinge na Suid-Afrika sal toeneem.

Suid-Afrika gaan gebuk onder ‘n ANC-diktatuur gepaardgaande met uiters swak politieke leierskap en kenmerkende vergrype. Faktore soos ‘n hoë werkloosheidskoers, korrupsie, gewelddadige betogings en ‘n droogte maak dat ‘n nuwe vlaag ‘vlugtelinge’ uit die buurland ‘n loodswaar las op die plaaslike ekonomie sal plaas.

Nog vlugtelinge sal noodwendig Suid-Afrika se buitengewoon hoë misdaad ‘n baie kerwe hoër opskuif.

Dit bly egter knaag dat die ANC-regime Zimbabwe se Mugabe as ‘n boesemvriend hanteer en selfs as ‘n voorbeeld voorhou. Die ekstreme vleuel van die ANC, die EFF van Julius Malema, gebruik grondeiening  en -besetting in die buurland gedurig as ‘n navolgingswaardige voorbeeld.

Hierdie roete het gesorg vir hongersnood en werkloosheid, en uiteindelik die ondergang van Zimbabwe.

Plaaslik is ‘n wedloop tussen die EFF se klimaatskepping vir grondbesetting en die regime se wetgewing omtrent grondonteiening aan die gang.  

Die vriendskap tussen die twee lande se diktatorskappe het ‘n nog veel donkerder kant weens die Chinese konneksie wat altwee handhaaf en die gerugte dat plaaslike terroriste (misdadigers) oorkant die grens opleiding ontvang (het).

Hoe ookal sy, Suid-Afrika en Zimbabwe is soos twee drenkelinge wat mekaar uiteindelik in ‘n stormagtige Afrika ondertoe trek.