Plant ‘n granaat vir versiering en sy vrugte

Granaatbome en hul vrugte word pragtig beskryf as daardie die bloedrooi glinsterende pêrels…

 

Die meeste van ons ken granate en ook die pragtige digte granaatbome of struik. Die botaniese naam van die granaat is Punica granatum. Dit is ‘n bladwisselende struik of klein boompie. Soos ons sien in die supermarkte en vrugte en groentewinkels is granate nou redelik beskikbaar. Ongelukkig is dit ‘n duur vrug, maar is deesdae so gewild in ons kosresepte. Daar word ook vrugtesappe gemaak van granate en dit word ook as garnering in alkoholiese drankies en ook om ons disse te versier.

 

Granaatboere glimlag breed, want hierdie outydse vrug het nou baie gewild geraak en die boere wat destyds baie granaatbome geplant het, wat gedien het as heinings, is vandag baie gelukkig. Granaatbome kom oorspronklik van Iran, maar word nou wêreldwyd gekweek. Dit het bekend geword in Spanje en Amerika in die 16de eeu en in Kalifornië onder die Spanjaarde in 1769.

 

Granaatbome is in die familie Lythraceae en die rang is Myrtales. Die naam “pomegranate” word afgelei van die Latyse woord “pomum” wat appel beteken en “granatum” wat saad beteken. Dit het vroëer in die Engelse taal, bekend gestaan as “apple of the Grenada”.

 

Granaatbome kan tot 10 meter hoog word en het digte lang takke en digte blare wat donkergroen skyn. Die bome kan baie oud word en daar word beweer dat sekere spesis van hierdie bome in Frankryk vir 200 jaar oorleef het. Die blare van die granaatboom is glansend groen en smal en word 3 – 7 cm lank en 2 cm breed. Dan natuurlik dra hierdie bome die pragtigste helder rooi blomme wat 3 cm in diameter is en dit het drie tot sewe blare aan elke blom. Die blomme is groot en die bome blom baie goed. Daar is variëteite wat nie vrugte dra nie en dit word net geplant vir die blomme.

 

Natuurlik is die vrugte eetbaar, met duisende pitte wat omhul is met ‘n wit dun vlies en bitter smaak as dit gehap word. Die pitte is sappig. Die vrugte word tussen 5 – 12 cm groot en is rond en die skil is hard en dik. Volgens bronne het die vrugte tussen 200 tot omtrent 1 400 pitte. Granaatbome kan redelike droogte weerstaan en as dit in gebiede geplant word waar hulle te veel water kry, sal die wortels verrot. Hierdie bome kan ook ligte ryp verdra.

 

Granaat rugte bevat baie vitamines en is ryk aan vesel. Die sap van hierdie vrugte is geneig om hande te vlek. Hoe ryper die vrugte word, hoe sappiger word hulle.

 

Tuiniers, probeer gerus ‘n granaatboom plant. Dit vertoon mooi en maak ook ‘n aantreklike heining met die rooi blomme en hangende vrugte.

 

Geniet u tuin en onthou om die plante teen ryp te beskerm. Die snoeityd is om die draai.